Ronelle Demat wil ’n aardse kuier reël. Die tafel word versier met Kaapse fynbos, proteas en vetplante. Die atmosfeer het ’n nostalgiese gevoel wat jou verwelkom met intrapslag.
Ronelle Demat se spyskaart:
- Patat-en-lensiekerriesop en snoek-krokette
- Heelvis gebak in sout met groensous
- Roosmalva-vla en souskluitjies
PATAT-EN-LENSIEKERRIESOP
genoeg vir 6
- 20 ml kerriepoeier
- 60 ml olyfolie
- 2 uie, fyngekap
- 3 knoffelhuisies, fyngekap
- 1 appel, geskil en gerasper
- stuk vars gemmer so groot soos duimnael, fyngerasper
- 800 g (sowat 5) patats, geskil en in blokkies gesny
- 1 x 400 g-blik rooi lensies, gedreineer
- 1 200 ml groente-aftreksel
- 300 ml melk
- sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit ’n kastrol oor matige hitte. Droogbraai die kerrie so 20 sekondes in’n warm pot. Voeg olyfolie by en verhit tot die speserye braai. Voeg uie en knoffel by en braai 1 minuut. Voeg appel en gemmer by en braai nog 2 minute. Voeg patats, lensies, aftreksel en melk by. Geur goed met sout en peper.
Kook 25 – 30 minute of tot die patats sag en gaar is. Maak die gaar mengsel fyn in ’n voedselverwerker. As die sop te dik is, kan jy nog melk byvoeg. Skep in ’n opdienbak en sit voor saam met krokette.
SNOEK-KROKETTE
- 30 ml botter
- 1 ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 400 g gerookte snoek, fyngevlok
- 4 takkies tiemie, fyngekap
- 50 ml koekmeel
- 2 eiers
- sout en varsgemaalde swartpeper
- 100 g broodkrummels
- 30 ml olyfolie
Verhit botter in ’n middelslagpot tot warm. Voeg ui en knoffel by en braai liggies vir sowat 5 minute of tot die uie begin verkleur. Meng die gevlokte snoek saam met tiemie, meel en 1 eier. Geur met sout en swartpeper. Vorm die snoek-mengsel in groot balletjies. Klits oorblywende eier en gooi dit in ’n plat bak.
Doop die balletjies in eier en dan in broodkrummels. Verhit botter in ’n middelslag-pan tot warm. Braai koekies sowat 5 – 8 minute aan ’n kant of tot goudbruin en gaar. Sit warm voor saam met sop.
HEELVIS GEBAK IN SOUT MET GROENSOUS
genoeg vir 6
- 250 g (500 ml) gerookte sout
- 1 400 g (1 250 ml) sout
- 12 eierwitte
- 6 takkies roosmaryn
- 1 hand vol tiemie
- 4 knoffelhuisies
- 2 suurlemoene, gehalveer
- 1 heel grootvis
- swartpeper na smaak
Verhit die oond tot 180 °C. Meng gerookte en normale sout en eierwitte goed in ’n groot mengbak. Druk kruie, knoffel en suurlemoenhelftes in die vis se buik. Spuit ’n bakplaat goed met kleefwerende kossproei en skep die helfde van die soutmengsel op bakplaat. Versprei eweredig en plaas vis bo-op. Geur goed met swartpeper en skep die res van die soutmengsel oor. Maak seker die hele vis is goed met die mengsel bedek.
Plaas in die vis in die warm oond en bak vir 90 minute tot die soutkors donkerbruin en hard is. Gebruik ’n houtrolstok en slaan die soutkors stukkend. Haal die vis uit en gebruik ’n kombuiskwas om enige ekstra sout af te borsel. Plaas op ’n opdienbord en sny in porsies.
- 60 g platblaar-pietersielie (Italiaans)
- 1 hand vol vars koljander
- 6 heel knoffelhuisies
- 5 ml gekapte groen brandrissie
- 30 ml rooiwyn-asyn
- 30 ml suurlemoensap
- 120 ml olyfolie
- sout en varsgemaalde swartpeper
Plaas die pietersielie, koljander en knoffel in ’n voedselverwerker en verwerk tot fyn. Voeg brandrissie, asyn en suurlemoensap by en meng goed in voedselverwerker. Voeg olie geleidelik by terwyl die voedselverwerker loop. Meng goed en geur met sout en peper. Skep uit in bakkie en maak toe met kleefplastiek. Plaas in die yskas tot benodig.
ROOSMALVA-VLA
- 600 ml melk
- 10 ml vanieljegeursel
- 4 roosmalva-blare
- 8 eiergele
- 45 ml koekmeel
- 160 g (200 ml) suiker
- 400 g (500 ml) suiker
Bring melk en vanielje tot kookpunt in ’n kastrol. Klits die eiergele, meel en 160 g suiker saam tot lig en romerig. Voeg warm melk by terwyl jy klits. Gooi die mengsel in ’n skoon pot en plaas oor lae hitte. Klits stadig vir sowat 5 – 8 minute tot mengsel dik en glad is. Moenie die mengsel laat kook nie, anders gaan dit skei.
SOUSKLUITJIES
sowat 9 kluitjies
- 120 g (215 ml) koekmeel
- 10 ml bakpoeier
- 1 ml sout
- 15 ml botter
- 1 eier
- 125 ml melk
- 2,5 ml fyn kaneel
- 15 ml suiker
- 15 ml botter
- Stroop
- 5 ml botter
- 30 ml suiker
- 2 ml fyn kaneel
Sif meel, bakpoeier en sout saam in ’n mengbak. Vryf botter in die mengsel in tot dit soos broodkrummels lyk. Klits eier en melk saam en voeg by die meelmengsel. Meng goed tot ’n stywe deeg. Laat staan vir 15 minute. Plaas 500 ml water in ’n kastrol en voeg ’n knippie sout by. Bring tot kookpunt en stel dan die hitte tot baie laag. Skep eetlepels vol van deeg in water en sit die deksel op. (Moenie te veel op ’n slag in pot plaas nie.) Kook 8 – 10 minute.
Meng die 15 ml suiker en 2,5 ml kaneel om kaneelsuiker te maak. Skep die kluitjies uit die water in ’n bak, strooi kaneelsuiker oor en stip met die 15 ml botter. Maak die stroop deur 5 ml botter, 30 ml suiker en 2 ml kaneel by die water waarin die kluitjies gekook het te voeg. Gooi die stroop oor kluitjies en sit dadelik voor saam met die warm vla.
Kyk die voorskou hier:
The post ’n Fees vir saamkuier: Fynbos en aards appeared first on SARIE.