Eers was daar 10 en nou is daar vyf. Week na week moet kykers met swaar harte die oulike Kokkedoortjies groet. Wie gaan die wenner wees van kykNET se eerste Kokkedoortjie? Al die kinders is talentvol en is niks bang vir ’n kombuis nie.
SARIE se kosredakteur, Herman Lensing, het die Kokkedoortjies beter leer ken.
Edwin Theron (12) van Worcester
Wat is die lekkerste ding om te kook en hoekom?
Cordon Bleu – ’n lekker groot stuk steak met kaas en ham binne-in. Dis baie lekker om die vleis met die vleishamer plat te kap.
Wat is die vreemdste ding wat jy al geëet het?
Krokodilvleis op George. Dit was nogal lekker sag en sappig en het my aan hoendervleis laat dink.
As jy ’n bestanddeel of happie was, wat sou jy gewees het?
Rissie. Mooi om na te kyk, maar moet my nie kwaad maak nie.

FOTO Donna Lewis
Mia Grobler (13) van Lynnwood, Pretoria
Wat geniet jy die meeste van kosmaak?
Dit maak my rustig, jy kankook wat jy voel en kos bring mense bymekaar.
Wat is jou grootste kombuisgeheim?
Gebruik altyd die varsste en beste bestanddele en kies groter mengbakke as wat jy dink jy nodig het.
By wie het jy leer kook?
Ek het my ouers van kleins af in die kombuis dopgehou. Namate ek ouer geraak en meer begin belang stel het, het ek ook al meer kans gekry om self te bak en te brou.

FOTO Donna Lewis
Christi Myburgh (14) van Bloemfontein
As jy ’n bestanddeel of happie was, wat sou jy gewees het?
Melk, want dit bring almal bymekaar
Wat is jou gunsteling?
Soetgoed soos sjiffonkoek, want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.
Wat is jou grootste kombuisgeheim?
Dat ek partykeer my vingers aflek terwyl ek kook

FOTO Donna Lewis
Thali Hugo (11) van Wellington
Hoekom is kosmaak lekker?
Ek hou daarvan om my skeppings met mense te deel. Dis lekker om te sien hoe hulle glimlag as hulle dit geniet.
Wat is jou gunsteling?
Geregte wat ek in die pan braai, soos karringmelkhoenderfilette. En ek is ook mal oor koekies bak, want jy kan so baie dinge doen met goeie koekiedeeg.
Wat is die vreemdste ding wat jy al geëet het?
Gebraaide vis-oë saam met my ouma Alta. Dit was glibberig en nie te sleg nie, maar ek dink nie ek sal dit weer eet nie.

FOTO Donna Lewis
Christiaan Cloete (11) van Raithby, Stellenbosch
Wat is jou grootste kombuisgeheim?
’n Sous met net vier bestanddele wat by alles pas.
By wie het jy leer kook?
Hoofsaaklik by my ma, Martmarie.
Vir watter bekende sjef sal jy wil kook?
Sjef Craig Cormack van die restaurant The Goose Roasters by Stellenbosch.

FOTO Donna Lewis
The post Leer ken die 5 kokkedoortjies appeared first on SARIE.