Die soet smaak van koeksisters word in die roombasis van die nagereg ingekook. Die beste van twee wenners!
genoeg vir 6
• 370 ml room
• 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
• 6 groot koeksisters, grofgesny
• 4 eiergele
• 90 g (110 ml) suiker
• ekstra suiker vir bolaag
Bring room en vanieljepeul en -saadjies tot kookpunt. Gooi oor gekapte koeksisters en laat afkoel tot koud. Laat oornag in yskas. Gooi mengsel deur ’n sif en druk al die room wat die koeksisters opgesuig het met ’n lepel uit. Gooi koeksisterstukke weg. Hou gegeurde room eenkant. Verhit oond tot 140 °C. Klits eiergele en suiker saam in ’n middelslagmengbak. Voeg gegeurde room by eiermengsel terwyl jy stadig klits. Plaas 6 oondvaste koppies (volume van 250 ml elk) in ’n oondpan. Gooi eiermengsel deur ’n sif in koppies. Vul oondpan met warm water tot halfpad so diep soos koppies. Plaas in warm oond en bak sowat 45 – 60 minute of tot dit die tekstuur van jellie het as jy liggies teen koppies stamp. Plaas in yskas om verder te stol tot yskoud. Strooi dun lagie strooisuiker oor koue crème brûlée. Brand suiker met ’n blaasvlam tot donker karamel vorm. As jy nie ’n blaasvlam het nie, kan jy dit onder die oond se rooster-element sit. Sit voor
The post Koeksister-crème brûlée appeared first on SARIE.