Die internet is oorlaai met video’s van dinge wat jou lewe glo binne sekondes gaan beter maak; die geheime oplossing waarna ons al vir jare soek, maar waarvan ons nooit geweet het nie.
Een so ’n video is van iemand wat eiers binne sekondes in water afdop. Ons het dit gaan toets, plus die perfekte tye vir gaarmaak van eiers
Die teorie:
’n Blogger plaas gekookte eiers in ’n glasbottel en vul dit halfpad met water. Hy maak die bottel toe en skud dit rond. Ná ’n paar sekondes haal hy die eier uit die water en die dop kom met een beweging los. Kyk hier.
Ons toets
Ons gaan 6 eiers teen kamertemperatuur vir 6 minute kook tot hard. Ons gaan die helfte van die eiers warm los vir die toets. Die oorblywende eiers laat ons afkoel tot koud en dit dan een vir een in ’n bottel water skud.
Resultate:
Eier 1 – warm uit die pot in die bottel
Soos ek vermoed het: ’n gemors. Die eier het met die eerste skud onmiddellik in stukke gespat en gebreek. Hoewel die eier se geel en wit hard gekook was, kon hulle nie die skud van die bottel weerstaan nie. Hierdie eier is nou verlore vir my dieet – ek het besluit om die ander twee nie ook te skud nie.
Eier 2 – Vir 20 minute afgekoel in koue water
Ek was baie skepties, aangesien ek klaar een eier verloor het in die toetsproses. Maar ek het die bottel halfpad gevul met koue water en die eier daarin geplaas. Dié keer het ek die bottel met minder entoesiasme geskud (dalk ook deel van die mislukking by eier een!) Die water het helder gebly en ek kon sien hoe die dop begin kraak en effe loskom.
Resultaat:
SUKSES! As die eier koud in die water gaan, bly die eier heel en die dop kraak. Die dop kom nie los en dryf in die water rond nie. Hy kraak eerder oral reg rondom en jy trek hom met een beweging af.
My opinie:
Jy gaan nooit sagte eiers so kan skil nie, want die eier sal breek. Dis baie moeite om te wag tot die eier koud is. So, spaar jy regtig tyd? Maar dis lekker vir kinders: kook hul eiers en laat hulle skud!
So kook jy perfekte eiers:
Plaas eiers in ’n kastrol en bedek met koue water. Moenie ’n deksel opsit nie. Sit die kastrol op ’n stoofplaat wat op matige hitte gestel is en bring tot kookpunt. Die kooktyd sal afhang van hoe hard die eiers moet wees (sien punt 1 tot 3 hieronder). Meet tyd vanaf die oomblik dat die water begin kook. Wanneer die verlangde tyd bereik is, haal die kastrol van die plaat af en gooi koue water oor die eiers sodat die kookproses dadelik kan stop.
1. Saggekookte eier – 1½ minute – die eierwit is nog effens rou om die geel.
2. Medium-gekook – 5 minute – die eierwit en geel is heeltemal gestol, maar die eiergeel is nog effens sag in die middel.
3. Hardgekook – 10 minute – die eiergeel is nou heeltemal gestol en ligter van kleur soos in die klassieke hardgekookte eier.
Patroon vir eiermussie
Neem penne van 3,75 mm en dubbelbreidraad. Heg aan 28 steke en brei 4 rye dubbelrif (=2 regs, 2 aweregs). Brei reguit vir 14 rye in koussteek. Brei dan vir die volgende rye die steke twee-twee saam totdat daar slegs een steek oor is. Maak vir elke mussie ’n klein pompom en werk dit bo-aan vas. Werk synate toe.
Lekker kook!
Herman
The post Herman toets: Skil eiers onder 1 minuut appeared first on SARIE.