Quantcast
Channel: Kos – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Koekedore gee raad: Só oorkom jy jou fobie vir bak

$
0
0

As jy deesdae baie trendy wil wees, moet jy kan brei, hekel en bak! In ons digitale era en gejaagde lewe meen kenners dat ons terugkeer na wat ons oumas vir ontspanning gedoen het in ons vrye tyd.

Vir baie is die blote gedagte aan bak vreesaanjaend en kan lei tot paniek, trane en baie flops. Maar dis juis wanneer jy bak aanpak met dáái gevoel dat die wiele van die bus begin afval. Ons het gaan inloer by kykNET se Koekedoor-beoordelaars om by hulle te hoor hoe om die fobie vir bak te oorkom en altyd te sorg jou gebak is 1ste klas (die een wat al die pryse by die basaar wen!).

* Kyk Koekedoor om 20:30 op DStv-kanaal 144. Vanaand moet die top-9 deelnemers hul beste winterpoedings bak.

 Elizabeth Cloete (foto Myburgh du Plessis)

Elizabeth Cloete

1. Wat is die grootste geheim as jy bak?

Ek het nie werklik geheime nie, en ek deel graag raad met wie ook al vra. Een ding wat ek met ‘n brandewyntert geleer het – en ek bak dit graag – is laat die tert eers goed afkoel voor jy die warm stroop oorgooi. As jy die stroop oor die warm tert gooi, is dit lief om te kluitjie. Nog iets is my malvapoeding. Gooi die warm stroop oor die warm tert as dit klaar gebak is en sit dit terug in die oond vir so 10 minute sodat die stroop karamelliseer.

2. Wat het jy geleer uit Koekedoor?

Ek het uit Koekedoor weer eens geleer hoe belangrik dit is om die resep goed te lees voordat jy begin bak. Dan is daar ook dié wenk van Mareli (wenner van seisoen 1): Strooi liefs mielieblom pleks van meel op die werkvlak waar jy jou deeg gaan uitrol. Maak ‘n sakkie van gaasdoek en sit die mielieblom of meel daarin, en gebruik dit dan om die meel op die uitrol-oppervlak te strooi.

3. Die grootste bak-trend van 2016 (buiten Koekedoor natuurlik!)

Ek is nie so in op die nuwe bak-trends nie, maar ek sou sê: Om ou gunstelinge nuut te maak deur dit te versier met vars of versuikerde of glansvrugte. Ook natuurlik die naakte koek met baie lae en lekker nuwe vulsels, soos bv. vars vrugte. Die naakte koek maak die vulsels meer sigbaar.

Die “funfetti”-koek van Mari-Louis is ook iets nuuts wat mense graag namaak. Hiervoor gebruik jy die bundt-pan, nog ‘n gewilde goue oue.

Suurdeeggebak met natuurlike meelsoorte se gewildheid het ook toegeneem.

4. As jy my nou nooi vir tee, wat gaan op die tafel wees?

Ek sal maar ‘n bietjie skrikkerig wees om jou te nooi vir tee. Maar ek sal my pose hou en ou bekende gunstelinge voorsit, soos klein brandewyntertjies, skilferkors-hoenderrolletjies, klein spinasie-quiches en dalk ook hertzogkoekies.

5. Hestiafobie is die vrees vir bak. (Ja, daar bestaan so iets!) Het jy enige raad vir aspirant-bakkers wat dalk aan dié fobie ly? Ek weet daar is baie!

Voor jy begin bak, vra iemand wat goed kan bak of jy haar (of hom) kan besoek wanneer sy bak. Gebruik dieselfde resep as sy en maak dieselfde gebak saam met haar terwyl sy bak. Gaan huis toe en maak dieselfde gebak so gou moontlik. Haal eers diep asem en raak rustig. Lees dan die resep baie goed deur. Kry al jou bestanddele bymekaar en begin. Verwag dat jou eerste poging nie skoumateriaal mag wees nie, maar probeer weer.

Mari-Louis Guy

Mari-Louis Guy

1. Wat is die grootste geheim as jy bak?

Geselsradio – dit hou my kalm. Begin ook met ‘n resep wat jy vertrou, bak eers een maal volgens die instruksies voor jy daaraan begin peuter. Bak alleen, versier met vriende.

2. Wat het jy geleer uit Koekedoor?

Ek het geleer dat ek nog werklik baie het om te leer – elke land het soveel bakgeheime en ek word geïnspireer deur almal om my. Ook dat bakboeke nooit werklik die volle waarheid kan vertel nie – as jy ooit vir Gerda (die koeksister-koningin) dopgehou het, breek sy soveel “reëls”, maar haar produk is die beste. Die een rol die deeg honderde kere, die ander meng dit in 10 minute en die resultaat is dieselfde pofkrag. Ek voel op die oomblik soos ‘n ruimtevaarder wat net nog en nog bakplanete ontdek, elkeen met sy eie eienskappe – oneindig soos die heelal.

3. Die grooste bak-trend van 2016 (buiten Koekedoor natuurlik!)

Dit moes jy my nou nie gevra het nie – as ek oorkant jou gesit het, sou jy my nie kon stilkry nie, ek kan ure hieroor gesels. Maar hier is een: Die meeste mense het ‘n sobere week- en ‘n effens meer losbandige naweek-dieet – gesonder gebak met meer vesel en minder versiering of suikervrye versiering in die week, en naweke kom die glitter, die goud, brons en silwer uit en oordadige, druppende versierings bo-op. Hulle baklei amper vir daardie stukkie retail-spasie.

4. As jy my nou nooi vir tee, wat gaan op die tafel wees?

Ek dink ons maak te min gebruik van koejawels in ons gebak. Daardie stowwerige pienk kleur is beeldskoon – ek sal hemel toe gaan met ‘n pragtige koejawel-sjiffonkoek. Ek eksperimenteer ook met gisplantjies en het ‘n Amiese een, waarmee ek so ‘n pragtige, vryvorm brood bak met Kaapse kase daarby. En melktert, altyd melktert.

5. Hestiafobie is die vrees vir bak. (Ja, daar bestaan so iets!) Het jy enige raad vir aspirant-bakkers wat dalk aan dié fobie ly? Ek weet daar is baie!

Sit aan die stoof, rus nou eers weer, spuit en voer die koekpan, jy weet jy kan, lawe jouself nou met koffie of iets sterkers. Sit die voorskoot bewend aan, jy is ‘n wenner. Maak vriende met die elektriese skaaltjie. Nou is dit eintlik net ‘n wetenskap-projek. Haal diep asem in ‘n bruinkardoessakkie. Meng. Vee nou jou sweet af, was jou hande. Skep alles in die pan, sit in die oond. Bel ‘n vriendin. Sit rustig in ‘n mediteringsposisie voor die oond. Giggel soos ‘n kind wanneer jy uiteindelik die mooiste gebak voor jou het. Jy, my vriend/vriendin, het hierdie geskep.

Kry ‘n bakboek en werk hom deur. Sien jou volgende jaar by die Koekedoor-stoor. Hierdie is ‘n verslawing van die mees positiewe aard. Waarskuwing – lei tot wonderlike vriendskappe en sakke suiker.

_D6B0139

Tiaan Langlegger

1. Wat is die grootste geheim as jy bak?

Ek sou sê ‘n goeie skaal en maatkoppies, leer jou oond ken en wees geduldig.

2. Wat het jy geleer uit Koekedoor?

Dat enigiemand kan bak as hulle die regte gesindheid het en wil!

3. Die grootste bak-trend van 2016 (buiten Koekedoor natuurlik!)

Organiese klipgemaalde meel. Jy kan dalk selfs jou eie maal.

4. As jy my nou nooi vir tee, wat gaan op die tafel wees?

Jy kan nooit verkeerd gaan met ‘n lekker groot LMP (suurlemoentert) nie.

5. Hestiafobie is die vrees vir bak. (Ja, daar bestaan so iets!) Het jy enige raad vir aspirant-bakkers wat dalk aan dié fobie ly? Ek weet daar is baie!

Praat met mense wat gereeld bak dat hulle vir jou kan raad gee, begin met maklike resepte en werk jou pad op.

Hier is 5 van ons gunsteling-koeke vir jou om te bak. Jy kan hulle maar vreesloos aanpak!

Sjokoladekoek met ganache Kry resep hier

koek5

Ystervarkie-koek Kry resep hier

koek 2

Koffiekoek met sjokolade Kry resep hier

koek 3

Kaaskoek uit Parys Kry resep hier

koek4

Pynappel-wortelkoek Kry resep hier

sr1308_koek_v_d_maand

The post Koekedore gee raad: Só oorkom jy jou fobie vir bak appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!