Die geskiedenis van kos fassineer my elke keer as ek iets daaroor lees. Soos oor Ruth Graves Wakefield. Sy het in 1938 die eerste sjokolade-splinterkoekie uitgedink (die resep is opgeneem in haar kookboek Toll House: Tried and True Recipes).
Nee, dit was nie ’n ongeluk nie – soos baie van vandag se bekende resepte. Sy en haar man, Kenneth, het die Toll House Inn bestuur en vir gaste botterkaramelkoekies (butterscotch-koekies) saam met roomys as nagereg voorgesit. Die gaste was blykbaar mal daaroor, maar Ruth was lus om ‘n slag iets anders te maak – toe skep sy sjokolade-splinterkoekies.
Sy het dit die Toll House Chocolate Crunch Cookie genoem. Die koekies was dadelik so gewild dat die verkope van Nestlé se sjokolade die hoogte in geskiet het. Omdat mev. Wakefield ’n slim sakevrou was, het sy die regte vir haar koekieresep en die Tollhouse-naam aan Nestlé verkoop vir net $1 – asook ’n leeftyd se sjokolade! Nestlé het dadelik die resep op hul verpakking begin druk en so het die sjokolade-splinterkoekie die wêreld verower. Hier is my resep vir oorgroot sjokolade-splinterkoekies wat jy met hawermout maak. Dankie, Ruth!
Sjokolade-splinter-koekies
Lewer 6 groot koekies
- 220 g (240 ml) botter
- 260 g (325 ml) witsuiker
- 2 eiers
- 340 g (950 ml) hawermout
- 220 g (380 ml) koekmeel
- 200 g donkersjokolade, in growwe splinters gekap
Verhit oond tot 160°C. Room botter en suiker tot lig en romerig met houtlepels. Breek eiers een vir een by en meng goed. Vou die res van die bestanddele om die beurt by en meng goed. Gebruik ‘n roomyslepel en skep balle vol van die beslag op ‘n gesmeerde bakplaat. Druk met jou palm plat tot 1 cm dik. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin en gaar. Laat afkoel en geniet saam met ’n glas yskoue melk of warmsjokolade.
The post Bak so jou eie sjokolade-splinterkoekies appeared first on SARIE.