Wanneer ’n storm losbars en jy het nie ’n kar om by die winkels uit te kom nie, wat maak jy dan?
Ek staan verlede Vrydagmiddag en wag ’n uur vir ’n Uber-taxi op die sypaadjie, op pad na ’n afspraak. Die verkeer is érg, want lyk my as dit hier in die Kaap reën, kan niemand bestuur nie.
Terwyl die wind en reën so om my waai, moet ek nou plan maak oor wat om vir aandete te kook. Ek het altyd eiers, meel, olyfolie en natuurlik water in die huis. Tuisgemaakte pasta is wat ek gaan maak! Kom uiteindelik by die huis en slaan onmiddellik die resep aanmekaar.
Ek gooi 400 g koekmeel, 4 eiers, 30 ml olyfolie en 30 ml water in die mengbak van my elektriese menger en skakel dit aan. (Onthou net om die deeghaak te gebruik.) Terwyl die deeg knie, gooi ek vir my lekker glas wyn, want daardie uur op die sypaadjie in die storm was glad nie pret nie.
Deeg klaar geknie ná sowat 10 minute, haal ek dit uit en maak toe met kleefplastiek. Terwyl die deeg vir 45 minute rus, kyk ek in die yskas vir iets waarmee ek ’n sous kan maak. Ek braai toe 1 ui (fyngekap) in ’n bietjie olyfolie en voeg 2 blikke tamaties en 125 ml rooiwyn by. Geur dit met sout en peper, en daar het ek ’n sous. Nou kan dit rustig en stadig prut – oop, sonder deksel – tot etenstyd. Gelukkig is daar vars basiliekruid en parmesaankaas ook in my yskas, vir later se voorsit.
Ek rol toe my pasta uit met my pastamasjien (jy kan dit natuurlik ook met ’n koekroller uitrol). Pasta moet ’n bietjie droog word en ek vat toe my lang stoffer en plaas dit oor twee stoele, hang my pastadeeg oor die stoffer se steel en gooi vir my nog ’n lekker glas wyn.
Ná 30 minute sny ek dit so dik soos ek dit wil hê. Ek kook ’n groot kastrol met water en voeg baie sout en ’n klein bietjie olyfolie by, skakel die plaat af en voeg die pasta by. Roer versigtig en laat staan tot pasta sag is – sowat 3 minute. Ek dreineer toe die pasta in ’n vergiettes en gooi dit in ’n groot opdienbak. Teen dié tyd is my tamatiesous lekker dik gekook en dit kom toe bo-op die pasta.
Basiliekruid en gerasperde parmesaan bo-oor, en daar het ek vir my gesin ’n ete op die tafel sonder dat ek daardie dag my voete in ’n winkel gesit het.
Sorg dat jy altyd dié bestanddele in jou kombuis het. Dan kan die storms maar losbars en jy kan lekker kosmaak sonder om winkel toe te gaan.
Lekker kook!
Groete,
Barbara
The post Barbara kook ’n storm los! appeared first on SARIE.