Christel Lourens maak dié resep al 30 jaar, veral vir groot gesellighede. Ideaal op baie warm dae.
genoeg vir 38 frikkadelle
FRIKKADELLE
• 2 snye witbrood
• 5 ml fyn gemmer
• 5 ml borrie
• 5 ml fyn koljander
• 5 ml fyn komyn
• 15 ml kerriepoeier
• 15 ml sout
• 30 ml fyn appelkooskonfyt
• 1 eier
• 30 ml wit asyn
• 1 ui, in kwarte gesny
• hand vol pietersielie
• 1 kg maalvleis
• sowat 60 ml olyfolie
KERRIESOUS
• 3 eiers, geklits
• 185 ml suiker
• 20 ml kerriepoeier
• 1 ui, gehalveer en in skywe gesny
• 375 ml water
• 60 ml wit asyn
• 15 ml fyn appelkooskonfyt
• 2,5 ml mielieblom
• 2,5 ml fyn gemmer
• 2,5 ml fyn koljander
• 2,5 ml fyn komyn
• 2,5 ml borrie
• sout en varsgemaalde swartpeper
• vars koljanderblare
Frikkadelle Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele vir die frikkadelle behalwe die maalvleis en olyfolie in ’n voedselverwerker. Verpulp tot glad. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en voeg verpulpte mengsel by. Meng goed deur, sommer met jou hande. Gooi olyfolie in oondbak. Skep ’n hoogvol eetlepel van die maalvleismengsel uit en vorm in ’n bal. Pak frikkadelle in oondbak en plaas in oond. Oondbak 30 minute tot gaar. Haal uit en laat afkoel tot kamertemperatuur. Kerriesous Plaas al die bestanddele behalwe koljanderblare saam in ’n kastrol. Plaas kastrol op stoofplaat oor baie lae hitte. Verhit sous terwyl jy heeltyd roer, anders skif die eiers. Hou aan roer tot die sous verdik het – dit moet soos ’n dik vla wees. Haal af van hitte en laat afkoel. Roer nou en dan om te keer dat ’n vel bo-op vorm. Rangskik frikkadelle op ’n opdienbord en gooi van die sous oor. Skep res van sous in ’n bakkie en sit saam voor. Garneer met vars koljanderblare
The post Koue frikkadelle met kerriesous appeared first on SARIE.