Ohna van der Sluys en haar man woon op Hermanus, waar hulle pas ’n nuwe huis laat bou het. Hy is van Nederlandse afkoms en dit moet deel wees van die spyskaart vir hul daknatmaak-partytjie. Die dekor moet landelik wees, met fynbos-elemente wat ’n gemaklike atmosfeer skep.
Ohna se spyskaart:
• Pampoen-en-appelbier-sop
• Eend-bitterballen
• Bros wafelkoekies met stroop
PAMPOEN-EN-APPELBIER-SOP
genoeg vir 6 – 8
• 45 ml olyfolie
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 15 ml vars gemmer, fyngerasper
• 1 ui, gekap
• 1 kg pampoen, in blokkies gesny
• 15 ml origanum
• 350 ml appelbier
• 350 ml hoenderaftreksel
• 1 rooi brandrissie, fyngekap
• 5 ml fyn kaneel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• brood vir voorsit
Verhit olyfolie in ’n middelslag-pot. Braai knoffel, gemmer, die ui en pampoenblokkies 5 – 8 minute. Voeg origanum, bier en aftreksel by. Verlaag die hitte en laat dit 10 – 15 minute stadig kook of tot pampoen sag en pap is. Voeg brandrissie en kaneel by en verwerk tot gladde mengsel in voedselverwerker. Geur goed met sout en swartpeper. Sit warm voor met brood.
EEND-BITTERBALLEN
(35 – 40 balle)
• 45 ml olyfolie
• 250 g spek, fyngekap
• 100 ml botter
• 45 ml koekmeel
• 6 aartappels, gaar gekook en fyngedruk
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g parmesaan-kaas, fyngerasper
• 4 confit eenporsies, van been af gevlok
• 5 ml neutmuskaat
• 5 ml fyn naeltjies
• ekstra koekmeel vir uitrol
• 2 eiers, liggies geklits
• 200 g fyn broodkrummels
• olie vir diepbraai
Verhit olyfolie in middelslag-pot. Voeg spek by en braai tot goudbruin. Skep uit pot. Smelt botter in dieselfde pot. Voeg 45 ml meel by en roer tot gemeng. Hou aan roer vir 2 – 3 minute of tot mengsel begin verbruin. Voeg aartappels by en meng goed. Verwyder van hitte, voeg parmesaan, gaar spek en gevlokte eend by. Voeg ook speserye by. Meng goed. Geur met sout en swartpeper. Laat afkoel tot dit hanteerbaar is. Skep eetlepels vol van die mengsel en rol in balletjies. Rol elke balletjie eers in koekmeel, dan in eier en laastens in broodkrummels. Verhit olie toor matige hitte. Braai die balletjies in die warm olie vir 5 – 6 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer en sit warm voor.
Wenk: Maak dié klein happies vooraf en vries dit. As gaste onverwags opdaag, kan jy dit net vinnig in warm olie braai tot goudbruin
BROS WAFELKOEKIES MET STROOP
genoeg vir 6
• 140 g (250 ml) koekmeel
• 250 ml melk
• 30 ml strooisuiker
• 5 ml vanieljegeursel
• 2 eiers
• sonneblomolie vir diepbraai
• versiersuiker vir oorsif
• vanieljeroomys en bessies vir voorsit
Maak ’n gladde beslag van die meel, melk, strooisuiker, vanielje en eiers. Verhit olie tot warm. Plaas wafelyster vir 30 sekondes in warm olie en doop dan in beslag. Druk weer in olie en braai 1 – 2 minute of tot goudbruin. Druk wafel met paletmes van yster af op kombuispapier. Herhaal tot beslag op is. Laat afkoel. Sif versiersuiker oor en sit voor met roomys en bessies.
Kyk die voorskou hier:
The post ’n Aardse daknatmaak appeared first on SARIE.