Quantcast
Channel: Kos – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Dis internasionale sjokoladedag! Hier’s 4 heerlike resepte

$
0
0

Vandag is internasionale sjokoladedag! Hier’s drie van ons gunsteling-resepte:

1. Heerlike sjokolade-haselneuttert

Vir my is sjokolade en neute ’n wenkombinasie. Die tert is so ryk, jy kan gewoonlik net ’n klein stukkie op ’n slag eet.

genoeg vir 8 – 10

• 200 g sjokoladekoekies (Romany Creams)
• 60 ml gesmelte botter
• 200 g gepelde haselneute
• 100 g 70%-donkersjokolade, in stukke gebreek
• 150 ml room
• 15 ml kakao, gesif
• 175 g braambessies (blackberries)
• versiersuiker vir oorsif

Verhit oond tot 180 °C. Kap koekies fyn in voedselverwerker. Voeg gesmelte botter by en meng goed. Spuit ’n lang losboom-quiche-pan van 35 x 11 cm met kleefwerende kossproei. Gooi koekiemengsel in pan en druk stewig vas op bodem en lang die kante. Plaas in oond en bak 10 minute. Haal uit en laat kors afkoel.

Rooster haselneute ’n paar minute in ’n kleefvrye pan tot net-net bruin. Rangskik neute op kors. Plaas sjokolade en room in ’n bak wat pas oor ’n kastrol met water wat pas gekook het. Laat sjokolade en room smelt. Roer nou en dan. Voeg kakao by en meng goed. Gooi sjokolademengsel oor neute en plaas in yskas tot gestol – 1 – 2 uur. Haal tert uit pan en sprinkel braambessies oor. Sif bietjie versiersuiker bo-op.

FOTO: Micky Hoyle

 2. Ongebakte sjokoladetert

Maak 1 groot tert

KORS
• 1 pakkie (200 g) Marie-koekies, fyngemaak
• 110 g (120 ml) botter, gesmelt

VULSEL
• 180 ml room
• 40 g (45 ml) botter
• 200 g donkersjokolade, fyngekap
• 175 g bessies van jou keuse
Meng die koekiekrummels en genoeg botter tot die mengsel soos klam sand lyk. Spuit ’n broodpannetjie van 11 x 21 cm met kleefwerende kossproei, druk die koekiekrummels onderin en langs die kante vas, en sit dit in die yskas terwyl jy die vulsel maak. Gooi die room en botter in ’n middelslag-kastrol en verhit dit tot kookpunt. Gooi die warm roommengsel oor die gekapte sjokolade en roer tot glad voor jy dit in die tertkors giet. Sit dit vir 2-3 uur in die yskas om te stol. Sit dit voor met vars bessies.

Ongebakte sjokoladetert

FOTO: Donna Lewis

3. Ongebakte sjokoladekoekies

Maak hierdie koekies in ’n japtrap om jou lus vir ’n soetigheid gou-gou te blus. Kinders is gewoonlik mal hieroor. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas.

genoeg vir 24 blokkies

• 60 ml laevet-margarien
• 125 ml vetvrye melk
• 125 ml suikervrye grondboontjiebotter
• 320 ml suikerplaasvervanger (verkieslik fruktose)
• 5 ml vanieljegeursel
• 125 ml kakaopoeier
• 500 ml hawermoutvlokkies
• 500 ml mediumgrof gerasperde klapper

Voer ’n 1,25 liter-nageregbak uit met kleefplastiek en spuit met kleefwerende kossproei. Smelt die margarien in ’n pot en meng met die melk, grondboontjiebotter, suikerplaasvervanger en vanielje. Voeg kakao by en klits goed tot daar geen klonte meer is nie. Voeg die hawermout en klapper by en meng goed. Skep mengsel in voorbereide bak en plaas in yskas tot gestol. Sny in blokkies en sit voor.

FOTO: Micky Hoyle

4. Sjokolade-doughnuts met nougat-vulsel

Spesiaal vir sjokoliste. Baie ryk, maar o, so lekker!

genoeg vir 20

• 1 x basiese doughnut-deeg, klaar gerys
• 750 ml sonneblomolie
• 100 g nougat, in stukke gebreek
• 240 g melksjokolade, in blokkies gebreek
• 250 ml room
• 200 g 70%-donkersjokolade, in blokkies gebreek
• klein sjokoladekoekies van jou keuse

Keer die gerysde deeg uit op ’n meelbestrooide werkvlak. Sprinkel nog meel op die deeg voor jy dit afknie, en rol dan uit in lang strook van 2 cm dik. Druk sirkels uit met ’n koekiedrukker van 5 cm. Verhit die olie in ’n kastrol. Toets eers die olie met ’n stukkie afvaldeeg – dit moet stadig bruin braai. As die olie te warm is, sal die doughnut buite bruin braai terwyl dit nog rou is binne. Braai die deegsirkels (nie almal op een slag nie) tot mooi goudbruin en dreineer op kombuispapier. Laat afkoel.

Plaas die nougat, sjokolade en room in ’n kastrol. Verhit oor lae hitte en roer nou en dan tot gesmelt. Haal af van die hitte en laat afkoel. Verkoel die vulsel verder in die yskas. Maak ’n klein snytjie aan die kant van elke doughnut. Vul ’n spuitsak met die koue vulsel en spuit in die doughnuts. Smelt die donkersjokolade in ’n mengbak oor ’n kastrol met kookwater. Doop elke gevulde doughnut se bokant in die gesmelte sjokolade en plaas ’n koekie bo-op. Laat die sjokolade hard word en sit voor.

FOTO: Mickey Hoyle

The post Dis internasionale sjokoladedag! Hier’s 4 heerlike resepte appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!