Hannes van Wyk, akteur, vervaardiger en aanbieder van die kykNET-joernaalprogram Kwêla, het wonderlike herinneringe aan sy kinderdae – veral ma Mariet se kos.
“Al sê sy altyd (sy is 83 en woon in ’n aftree-oord op Aliwal-Noord) dat sy nie eintlik van kosmaak hou nie, maak sy die lekkerste kos.” Hy sonder veral haar soutterte, melktert, hoenderpastei, ag, ’n mondvol lekkernye uit. Jy kan hoor hy is totaal begeester.
“Een van my groot gunstelinge is haar beesstert. Dit is ongelooflik en heerlike winterkos as mens voor die kaggel sit, maar dit is ’n gereg wat ek enige tyd van die jaar kan eet … Ek het oor die jare die reseppie so bietjie aangepas net omdat tyd ’n probleem is. Ek weet my ma het hare altyd die dag voor die tyd gemaak en dan was dit heerlik. En dit is maklik om te maak, ook vir iemand soos ek wat nie so knap in die kombuis is nie,” sê hy ewe beskeie.
Hannes deel sy ma se aangepaste resep:
BEESSTERT MET BEET
genoeg vir 6
1. Plaas 3 kg beesstert in drukkoker en geur met peper. Bedek met kookwater en kook met 2 blokkies beesaftreksel vir 30 minute.
2. Voeg 2 opgesnyde uie by en kook vir nog 20 minute.
3. Haal beesstertstukke versigtig uit en pak in ’n oondpan.
4. Kook 3 groot bete vir 30 minute. Haal uit, maak skoon en sny in blokkies.
5. Plaas beet saam met 3 opgesnyde aartappels en wortels eweredig tussen beesstertstukke.
6. Sprinkel 2 eetlepels gedroogde Italiaanse kruie oor.
7. Maak 2 eetlepels meelblom aan in koppie melk en voeg eweredig by.
8. Laat beesstert se kookvloeistof wegkook tot ongeveer 1 liter. Gooi stadig oor alles in oondpan en bak, bedek met deksel of foelie, teen 180 °C vir 1½ uur vir verbruining.
9. Kook die rys die laaste halfuur. (Vir die beste resultate, laat rys 12 uur vooraf in water week voor jy dit kook.)
10. Sit voor met rys en Bulgaarse jogurt.
The post Hannes van Kwêla deel sy ma se beesstert-resep appeared first on SARIE.