’n Wafel met roomys en stroop is hemels. Dit smelt in jou mond en is tegelyk bros en sag én warm en koud. Ons ken die rondes, vierkantiges en het selfs al blommetjie-wafels gesien. Maar raai wat? Nou kry jy ook borrel-wafels!
Die naam sê presies wat dit is: wafels met borrels in plaas van blokkies. Maar dis nie sommerso ’n wafel nie. Die beslag is anders én dit word as ’n roomyshorinkie met heerlike vulsels gebruik.
Bubble waffles het glo eerste gewild geraak in Hongkong, maar nou neem dit Instagram oor.
Is dit SA se volgende kosgier? Hier’s reeds een winkel wat dit verkoop! Cookies & Cream in Buitengrachtstraat, Kaapstad, het nie op hulle laat wag nie.
Wat maak borrel-wafels uniek?
– Die beslag bevat meer eiers as ’n gewone wafel, wat borrel-wafels ’n heerlike vla-smaak gee.
– Die yster is seshoekig met holtes alkant om die borrels te vorm. Dis ongelukkig nog nie plaaslik beskikbaar nie, maar kan aanlyn bestel word op Amazon.com. Só lyk dit:
Wil jy jou eie borrel-wafels maak? Hier’s die wen-wenke:
– Onthou, die beslag moet loperig wees.
– Vir roomyshorinkie-wafels, gebruik minder beslag vir ’n dunner wafel en hou die wafel 2 minute langer in die yster. Dit gee ook ’n brosser tekstuur.
– Om die roomyshorinkie te vorm, vou stewige kegelvorms uit foelie en plaas dan die warm wafel binne-in die foeliekegel. Los dit binne tot dit afgekoel het.
– Die wafel kan met ’n soet of sout vulsel gevul word.
– Plaas ’n paar stukke handdoekpapier onder die yster ingeval van die beslag by die kante uitloop.
Kyk dié video vir ’n resep:
The post Het jy al ’n borrel-wafel geëet? appeared first on SARIE.