Die nuutste manier om daardie spesiale mens in jou lewe te bederf: Jy pak alles op ’n houtplank en julle eet so saam-saam. Hier is die perfekte deelbord vir ontbyt!
Soggens moet jy goed eet om jou aptyt die res van die dag in toom te hou. Lekkerder as hierdie maklike Franse roosterbrood en croissants vol sjokolade kry jy nie!

FOTO Micky Hoyle
Esdoringstroopspek
· 125g Strepiespek
· 45ml Esdoringstroop (maple syrup)
Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat uit met foelie. Rangskik spek op bakplaat en verf stroop oor. Oondbraai tot bros.
Hou warm eenkant.
Franse roosterbrood van engelse muffins
· 5 eiers
· 15 ml melk
· sout
· 3 Engelse muffins, gehalveer
· 75 g (80 ml) botter
Klits eiers en melk saam en geur met sout. Plaas 3 halwe muffins op ’n slag in eiers. Laat week sowat 5 minute. Smelt ’n derde van die botter in ’n pan oor lae hitte. Plaas die 3 halwe muffins in warm pan en laat res in eiers week terwyl jy die muffins braai tot gaar. Draai muffins halfpad om en braai tot gaar. Hou warm eenkant en smelt nog ’n derde van botter in pan. Braai res van muffins. Hou geklitste eier eenkant vir croissants.
Sjokolade-gevulde croissants
· 2 croissants
· 60 ml sjokoladesmeer (Nutella)
· versiersuiker
Sny croissants oop, maar nie dwarsdeur nie. Vul met sjokoladesmeer en maak toe. Plaas in geklitse eiers en laat week 5 minute. Smelt laaste derde van botter in dieselfde pan waarin jy die muffins gebraai het. Braai croissants sowat 3 minute. Draai om en braai tot gaar. Haal uit pan en sif bietjie versiersuiker oor. Sit voor met vrugte en esdoringstroop.
Sit voor saam met
· 100 g vars frambose
· 100 g aarbeie
· 100 g bloubessies
· esdoringstroop
Lees nou
Gratis ontwerpe vir 4 tipes afsprake vir #Valentynsdag
The post Deelborde vir twee vir ontbyt appeared first on SARIE.