Dis lekker om kos te maak en baie mense speel deesdae sjef vir ontspanning. Maar vir party is dit iets wat bloed uit hulle tap en hulle sielsongelukkig maak.
Hier is vyf wenke wat ek jou belowe die proses pret gaan maak en jy gaan elke oomblik daarvan geniet. Kry die potte en messe uit want ons gaan groot kook!
1. Gebruik vars kruie en speserye
As jy sonder te veel geld en moeite jou kos van gewoon na buitengewoon wil vat, is kruie en speserye jou antwoord. Maar maak seker jy gebruik dit altyd vars. Ja, selfs gedroogde speserye moet jy vars koop. Wat bedoel ek? Nes kruie is speserye vol olies wat verslaan hoe langer jy dit hou. So koop klein hoeveelhede op ’n slag en gebruik dit so gou moontlik. Dis ook beter om heel speserye te koop en self te maal soos jy dit nodig kry. Dan is jy verseker die geur is vars.
2. Koop goeie messe
Dis die een wenk wat elke sjef vir jou sal gee. Belê in een goeie sjefsmes. Maar kyk mooi na hom. Gebruik hom net op hout- en plastiekkapborde. Was hom met die hand en nooit in jou skottelgoedwasser nie. Hou hom in ’n houtblok of lapsakkie sodat hy nie rondgeskud word in die kombuislaai nie. En hou hom skerp. Neem hom gereeld om skerpgemaak te word. Jy sal nie glo hoeveel makliker die lewe is as jy ’n skerp mes het nie!
3. Gebruik surigheid in jou kos
Dis moeilik om te glo, maar iets soos suurlemoensap of ’n goeie asyn kan ’n hele nuwe wêreld van geur na jou kos bring. Wanneer jy bredie, kerrie of selfs net braaivleis maak, drup ’n skeut suurlemoensap daaroor voordat jy dit bedien. Of sprinkel ’n bietjie asyn oor groente voordat jy dit rooster. Glo my, die suur maak die geure oop en gee ’n ekstra dimensie aan jou kos. Suur is die antwoord!
4. Lees jou resepte
Ek kan dit nie genoeg herhaal nie. Voor jy enigiets aanpak in die kombuis, lees eers die resep en maak seker jy verstaan dit 100%. As jy voorbereid is, gaan die hele proses en eindresultaat net soveel beter wees. Lees die resep minstens twee of selfs drie keer deur, veral wanneer jy bak. Jy gaan dankbaar wees!
5. Proe soos jy kook
Dit klink dalk onbenullig, maar ek het al aan te veel tafels gesit waar die kos ongelooflik lyk, maar na niks smaak nie. Die rede? Die kok het nie die mees basiese geurmiddel gebruik nie: sout. Proe soos jy kook en pas aan. Souse se geur verander byvoorbeeld soos dit afkook en in elke stadium is dit nodig om te proe. As ’n resep net een keer vir sout vra, is dit nie te sê dis genoeg nie. En voor jy enigiets op die tafel sit, proe ’n laaste keer.
The post 5 dinge wat van jou ’n beter kok gaan maak appeared first on SARIE.