In my kombuis vat ek graag kortpad en ek is nie skaam om dit luidkeels te erken nie. Maar die geheim van ’n kortpad is om dit só te doen dat jy nie die smaak van die eindresultaat te na kom nie.
Een van my gunsteling-kortpaaie (veral ná ’n lang dag se werk!) is klaargaar hoender van die supermark.
Maar vergeet daarvan om dit net so gewoon voor te sit, daar wag vir jou ’n nuwe wêreld van geur en smaak met dié maklike resepte.
Klik op die resepnaam of foto vir die resep
1. Pastei met klaargaar hoender
Die geheim van enige pastei is die sous wat jy by die gevlokte hoender sit. Maak seker jy gebruik blaardeeg wat van regte botter gemaak is – die kors gee die pastei net soveel smaak soos die vulsel.
2. Hoender-mayo-broodjie
Met die lente hier is ’n heerlike broodjie terwyl die son sak net die ding. Boonop kan dit baie mense voed vir goedkoop! Die lekker van enige hoender-mayo-broodjie is in die naam: die mayo. As jy kans sien, maak jou eie mayonnaise. Dit sal die hoender van gewoon na buitengewoon laat smaak!
3. Romerige pasta
Wie kan nee sê vir vuurwarm pasta vol lekker smake van sampioene, parmesaan en, natuurlik, hoender? Neem jou tyd met die sous en laat dit stadig prut. Gebruik die beste kaas waarop jy jou hande kan lê. Dís wat gaan sorg vir geur in dié gereg.
4. Ertjie-en-hoender-risotto
As jy my hart op die plek wil laat smelt, nooi my na jou huis vir ’n bord vol roomsagte risotto. Dis ’n koningsmaal en goedkoop om te maak: en dis regtig nie so moeilik soos die fênsie sjefs jou wil laat glo nie. Gee die rysgereg lekker lyf en maak dit ’n ete op sy eie met gevlokte hoender. Die geheim van goeie risotto is die aftreksel wat jy gebuik.
5. Hoenderslaai
So oud soos die berge, maar stel nooit teleur nie! Soos met die broodjie, lê die lekker van die slaai in die mayonnaise wat jy gebruik en in die bros broodstukkies wat jy bysit. Maak seker jy sit die slaai dadelik voor ná jy hom gemaak het om te keer dat die blare pap raak. Hierdie kos is somer op ’n bord.
Lees nou
Lekker ligte lente-aandetes vir die week + inkopielys
Só lyk kilojoules in jou kitskos
The post 5 idees met gaar hoender appeared first on SARIE.