Dis geen geheim dat van die wêreld se beste produkte, mense en ja, sjefs, uit Suid-Afrika kom nie.
Vanjaar is dit weer bewys met twee kospryse: die beste kos-blog en die beste sjefskool in Afrika!
Beste Kos-blog in Afrika
Sam Linsell se hele lewe draai om kos. Haar blog, drizzleanddip.com, is ’n fees vir die oog en haar resepte is maklik en eenvoudig: jy voel nooit bang om saam te kook nie. Sam is ook nou al ’n gesoute fotograaf en neem self die foto’s vir haar blog – dis regtig mooi, jy moet gaan kyk!
Sedert sy die blog in 2009 begin het, het dit gelei tot twee kookboeke: Drizzle & Dip (Struik) en meer onlangs Sweet (Struik). En vir albei boeke het sy self die foto’s geneem.
Haar blog is ook vanjaar as die beste kosblog in Afrika aangewys deur die African Bloggers Awards. Dié prys is uniek omdat lede van die publiek geen stem het soos met ander toekennings in die bedryf nie. Dit word toegeken op grond van inhoud, die hoeveelheid besoekers op jou blog, en op navorsing wat ’n paneel beoordeelaars doen oor jou werk.
“Die Afrika Blogger-toekenningsgeleentheid is ’n onpartydige aanduiding van die reikwydte, die resonansie en die toepaslikheid van ’n kanaal wat invloed het, en wenners word gekies volgens wetenskaplike evaluering eerder as portuurbenoemings en stemme.”
- Sam Linsell oor die toekening
Beste sjefskool in Afrika
Kyk jy na van Suid-Afrika se suksesvolste sjefs, kan jy maar weet op hul CV staan hulle het by The Institute of Culinary Arts (ICA) buite Stellenbosch studeer. Sjefs soos Nick van Wyk van kykNET se Kokkedoor, Johnny Hamman, wenner van Kokkekoor en Peter Tempelhof van The Greenhouse Restaurant. Selfs die uwe het daar ’n draai gaan maak.
Gister is die ICA deur die gesaghebbende City & Guilds aangewys as die top-sjefskool in Afrika. Dié internasionele organisasie se Lion-toekennings, wat gereken word as die “Oscars” van opleiding in professionele en tegniese vaardighede, word elke jaar toegeken aan instansies die wêreld oor. Daar word gekyk na die gehalte van studente se werk, die inhoud van die kursus en, natuurlik, die resultaat van die opleiding.
“Ons aanwysing as Afrika se sentrum van uitnemendheid in die jaar wat ons 21 jaar van uitnemende opleiding vier, bring hulde aan die ICA se ware toewyding en volharding … ons aanvaar die toekenning nederig maar trots as bewys van ons opleidingsetos.”
- Letitia Prinsloo, hoof van ICA
The post Beste kos in Afrika! appeared first on SARIE.