Quantcast
Channel: Kos – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Inspirasiekos met SARIE: Pistasieneute uit Prieska

$
0
0

Daar is min neute so kenmerkend in kleur en geur soos die pistasieneut.

Dit is een van die duurste neute op die winkelrakke omdat dit ingevoer word (meestal uit Iran), maar deesdae word die neut ook plaaslik verbou. En dít nogal in die hartjie van die Noord-Kaap, Prieska!

My soektog na die stories van kos het my geneem na Connie Coetzee waar hy en sy vrou, Rina, hierdie groengoud groei. Op ons tuisgrond kweek hulle neute van wêreldgehalte!

Connie Coetzee en Herman Lensing

Connie Coetzee en Herman Lensing

 Het jy geweet?

1. Baie jare gelede het ons hier in SA net dié neute geken as bloedrooi. Waarom? Al die laergraadneute is rooi gekleur, dop en al, en dan gerooster met sout. Dis so verkoop as peuselhappies in laergraad-markte. Deesdae kry ons dit gerooster en gesout sonder die kleursel.

2. Dit neem die pistasieboom sowat 6 tot 7 jaar om in volle produksie te kom. Die neut is so gesog as gevolg van sy kleur. Hoe groener die neut, hoe meer gesog is dit.

3. Waarom die Prieska-area? Die boom vra vir baie warm somers en baie koue winters – albei eienskappe van die Noord-Kaap. Die boom aard goed in ’n Mediterreense klimaat en Connie vertel Prieska is na aan dié klimaat.

4. In die Middeleeue is pistasies slegs gegroei vir koninklike tafels. Die neute is gesout en dan voorgesit vir die adellikes – gewone mense mag nooit hul lippe aan dié groengoud gesit het nie. Die neut is van vroeg af as gesog beskou.

Hier is van my resepte met pistasieneute

pistasie 3

Lamsboud met pistasieneut-kors

Die neute bo-oor die lam gee dit daardie broslagie wanneer jy dit sny – ek hou van pienk lam, maar dis jou keuse!

genoeg vir 8

• 1 lamsboud (sowat 850 g, been en skenkel in)
• 6 knoffelhuisies, gehalveer
• 60 ml olyfolie
• sap van 1 suurlemoen
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 500 g geskilde piekeluitjies
• 100 ml worcestershire-sous

Pistasieneut-en-kruiekors

• 100 g uitgedopte pistasieneute
• 2 takkies kruisementblare
• 6 snye witbrood, gekrummel
• 15 g Italiaanse pietersielie
• 100 g (110 ml) gesmelte botter
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper

Verhit oond tot 160 °C. Plaas lamsboud in oondbraaibak. Gebruik skerp mes en steek 12 gate oral in die lamsboud. Druk ½ knoffel in gaatjies. Gooi olyfolie en suurlemoensap oor. Geur met sout en peper. Plaas die uitjies rondom die vleis. Sprinkel met klein bietjie olyfolie. Gooi worcestershire-sous oor lam. Maak pan toe en oondbraai vir 2 uur.

Maak intussen die kruiekors. Kap neute fyn in voedselverwerker. Haal uit. Kap kruisementblare, brood en pietersielie ook fyn in voedselverwerker. Meng die neute met die fyngekapte kruie. Voeg gesmelte botter en knoffel by. Geur met sout en peper. Haal lamsboud ná 2 uur uit oond en laat sowat 30 minute afkoel voor jy die kors opsit. Verhoog die oondtemperatuur na 180 °C. Pak die bolaag dik bo-op die lamsboud en sprinkel met nog ’n bietjie olyfolie. Plaas terug in oond vir nog 1 uur of tot goudbruin. Sit warm voor.

pistasie 2

Brosgebraaide aartappels met pistasieneut-pesto

Die lekkerste bros aartappels wat jy gaan eet! Maak genoeg!

genoeg vir 6

• 500 g sakkie baba-aartappels
• 500 ml kanola-olie
• 250 g botter

Pesto

• 1 hand vol basiliekruid
• 100 g pistasieneute
• 1 knoffelhuisie
• 100 g geraspede parmesaankaas
• olyfolie
• sout en peper

Kook baba-aartappels in skil tot sag en gaar. Gebruik agterkant van lepel en druk plat tot oopbars. Verhit olie en botter tot warm in groot pot. Plaas aartappels in olie, braai vir 8 – 10 minute of tot goudbruin en bros. Terwyl aartappels braai, plaas al die pesto-bestanddele in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot gladde mengsel. Skep bros aartappels uit warm olie en plaas op handoekrol om te dreineer. Geur met sout en peper en plaas in opdienbak. Sit aartappels voor met pesto.

pistasie 4

Koesisters-doughnuts met klapper en pistasieneute

Die Maleise manier van koesisters maak, is heerlik en baie anders as koeksisters.

genoeg vir 12 – 16

• 600 g (1 050 ml) koekmeel
• 280 g (500 ml) bruismeel
• 80 ml suiker
• 3 ml sout
• 10 g kitsgis
• 10 ml kaneel
• 10 ml anys
• 1 eier
• 45 ml botter
• 375 ml warm water
• 375 ml melk
• olie vir diepbraai
• 100 g fyn klapper
• 100 g pistasieneute, baie fyngekap

Stroop

• 200 g (250 ml) suiker
• 250 ml water
• 1 kaneelstok
• 1 vanieljepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap

Meng meel, suiker, sout, gis en speserye saam in groot mengbak. Meng eier, botter, water en melk saam. Gooi by meel en meng tot alles in een bal saamkom. Knie tot gladde deeg. Laat rys op warm plek tot dubbel in volume. Rol deeg uit op meelbestrooide oppervlak tot sowat 5 mm dik. Gebruik ronde koekiedrukker van 5 cm in deursnee en druk deegsirkels uit. Gebuik ’n kleiner een van sowat 1,5 cm in deursnee en sny gaatjies in elke groot sirkel om doughnut-vorm te maak. Verhit olie tot warm en diepbraai sirkels en klein sirkels tot goudbruin en bros.

Stroop Terwyl deeg rys, bring stroopbestanddele tot kookpunt. Kook vir 5 minute. Dompel koesisters in warm stroop vir 2 minute. Meng klapper en neute saam. Rol warm koesisters dadelik in klapper en pisasieneut-mengsel. Laat afkoel en sit voor.

Waar kan ek van Connie se neute kry?

Stuur e-pos na wercon@mweb.co.za of skakel 082 946 2354.

The post Inspirasiekos met SARIE: Pistasieneute uit Prieska appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!