Vir baie mense is die gedagte aan bak vreesaanjaend. Daar is soveel reëls en dinge om in gedagte te hou. Selfs ek as gesoute koskenner raak steeds elke keer bang as ek die menger en die meelsif uithaal.
Ja, glo my, daar is al baie trane in my kombuis gestort, en nie nét terwyl ek uie gekap het nie. In my kombuis loop alles ook nie altyd perfek af nie, maar daar is darem ’n paar wenke wat ek kan deel om die pad na sukses makliker te maak. Hier is my 5 bak-reëls net vir jou!
1. Moet nooit jou meelsif was nie
Hierdie les het ek by my ouma geleer toe ek haar as jong seun in die kombuis help bak het. Die geheim is om ’n meelsif ver weg van enige vloeistof te hou. Die gaatjies gaan verstop en jy gaan nie die veerligte meel kry wat jy soek nie. Hoe dan gemaak om hom skoon te kry? Sodra jy klaar gesif het, kap hom 3 of 4 hard keer teen ’n muur buite jou kombuis. As die sif per ongeluk nat raak, plaas dit in ’n warm oond om droog te bak (dis nou te sê as jou sif se raam van metaal is).
Wie kan nee sê vir vuurwarm skons – die geheim? Sif jou meel! Hier is ’n maklike resep! Klik hier.
2. Gebruik metaalbakke vir eierwitte klits
Op soek na daai bros pavlova met ’n sagte binnekant wat in jou mond wegsmelt? Dan moet jy sorg dat jou eierwitte lekker styf geklits is met genoeg lug in. Die eerste reël vir eierwitte klits is om vet weg te hou van die eierwit. Enige vet wat naby die eierwit kom, keer dat dit perfek skuim. Gebruik altyd metaalbakke wat droog en skoon is. Om te sorg dat die eierwitte vinniger begin skuim, kan jy ook so 5 ml kremetart bygooi vir elke 3 eierwitte. Onthou ook om die suiker geleidelik by te voeg sodra die mengsel sagte punte vorm.
Klik hier vir ‘n maklike pavlova resep.
3. Kleefvry met botterpapier
Daar is min dinge wat my ouma nie self gemaak het nie, en ek kan nie nie onthou dat sy haar panne ooit met kleefwerende kossproei gespuit het nie. Nie ’n enkele keer nie. By haar het ek geleer van botter, papier en meel. My ouma het al haar botterpapiere in die yskas gehou en wanneer sy bak, het sy haar panne daarmee gesmeer en ’n klein bietjie meel in die pan gesif. Die meel word oor die bodem gesif tot dit heeltemal bedek is en die ekstra meel skud sy uit. Om eerlik te wees ek het lui geraak en haar metode in my agterkop gesit, maar as ek die dag groot bak, smeer ek my panne met botter en sif ek dit met meel soos sy gemaak het – glo my, jou gebak sal nie vassit nie!
Klik hier vir my ouma se sjokoladekoek.
4. Louwarm water kraai koning
Ek het dié les op die harde manier geleer: as jy brood bak, moenie kookwater gebruik nie, nóóit nie! Gis is ’n lewende organisme wat lewe by liggaamstemperatuur. Enige water bo 40° C gaan die gis doodmaak en jou brood gaan nie rys nie. Meng altyd 1 deel kookwater met 2 dele kouewater. Meet dan daaruit jou water vir die gebak af. Om 100% seker te maak die water is by die regte temperatuur, druk jou vinger in die water. As dit min of meer dieselfde voel as jou vinger, weet jy dis reg!
Elke kombuis moet gevul wees met die reuk van tuisgebakte brood. Klik hier vir my ciabatta sonder moeite resep.
5. Koue gebak versier beter
Geduld is een van die heel belangrikste bestanddele in enige kombuis. Dis juis die ongeduld wat baie keer lei tot groot floppe. Wanneer jy koeke bak, moet jy dit deeglik laat afkoel voor jy dit begin versier. Selfs al is dit net louwarm, gaan jou versiersel smelt en afloop van die gebak. Keer jou gebak so gou jy kan uit op ’n afkoelrakkie en plaas dit dan iewers koel – nooit in die yskas nie, want die radikale temperatuurverandering vorm vog op jou gebak en dit gaan “sweet”. My raad is om deeglik te beplan en jouself genoeg tyd te gee dat jou gebak kan afkoel.
Onthou, bak vreesloos! Wees geduldig en pak dit aan soos ’n avontuur waarvan jy reeds weet dat die eindresultaat wonderlik gaan wees.
Lekker bak
Herman
The post Bang vir bak? Herman help met 5 wenke appeared first on SARIE.