Die kaaskoek is dun genoeg sodat jou gewete jou nie pla as jy twee snye eet nie.
genoeg vir 12
KORS
155 g (170 ml) botter, in blokkies gesny
280 g (500 ml) koekmeel
60 ml versiersuiker
45 ml yswater
VULSEL
2 x 230 g-bakkies roomkaas
4 eiergele
5 ml vanieljegeursel
80 g (95 ml) strooisuiker
35 groot aarbeie, stingels afgesny
Kors Verhit oond tot 180 °C. Plaas botter, meel en versiersuiker in voedselverwerker en pols by hoë spoed tot tekstuur van fyn broodkrummels. Terwyl menger loop, gooi water geleidelik by tot alles in een deegbal saamkom. Laat rus vir 15 minute in yskas. Rol op meelbestrooide werkvlak tot 3 mm dik uit. Spuit oondpan van
30 x 20 cm goed met kleefwerende kossproei. Voer pan uit met uitgerolde deeg. Bak blind (sien wenk onder) vir 15 minute. Vulsel Plaas al die bestanddele vir die vulsel, behalwe die aarbeie, in menger se bak en klits tot glad en romerig. Gooi in kors. Pak aarbeie met stingelkant na onder bo-op. Bak vir 25 – 30 minute of tot mengsel gestol is. Laat afkoel en sit voor.
Wenk
Blind bak beteken om ’n tertdop vooraf sonder ’n vulsel te bak. Prik die boom, plaas bakpapier oor die deeg en vul die bodem met droë boontjies of rou rys. Bak sowat 10 minute en verwyder die papier met boontjies of rys. Gooi die bone of rys weg, of hou dit vir ’n volgende keer se blind bak.
Nóg aarbei-resepte in die November-uitgawe van SARIE
The post Aarbeikaaskoek appeared first on SARIE.