Die natuur is ’n skatkis van geure en smake, en Kaapse fynbos is een van die heel beste voorbeelde. Herman Lensing volg op die voetspoor van ’n kenner om geurige geregte te maak van hierdie besonderse plante.
Op die punt van die Kaapse Skiereiland woon ’n jong vrou met lang krulhare en blinkbruin oë. Die huppel in haar stap wys Roushanna Gray is gelukkig, want sy doen elke dag wat vir haar die heel lekkerste in die lewe is – om hier ’n wortel uit te snuffel en daar ’n blaar of ’n blom te pluk en geregte of medisyne daarvan te maak. Suid-Afrika het ’n rykdom eetbare inheemse plante wat ons moet koester en kweek en daagliks gebruik, meen Roushanna. Ons fynbos moet erken word as groente en geurmiddels met ongelooflike voedingswaarde, selfs as gesondheidstonikum.
Om hierdie boodskap oor te dra bied sy kursusse aan op die Grays se kleinhoewe, die Good Hope Gardens Nursery, tussen Simonstad en Scarborough. Hier is Herman se resepte uit vanaand se episode van Inspirasiekos met SARIE.
Lees die volledige storie oor Herman se kuier by Roushanne in die nuwe uitgawe van SARIE KOS Junie/Julie, wat vanaf 30 Mei te koop is.
Groenboontjie-en-spekboombredie
Die spekboom gee die bredie ’n lekker suur smaak, byna soos suring in water-blommetjiebredie. Ek hou van ’n bredie met ’n witpeper-brand.
genoeg vir 6
• 45 ml olyfolie
• 800 g kort lamskenkels (knuckles)
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
• 5 ml gemengde droë kruie
• 1 kg groenbone, in derdes gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml kookwater
• 250 ml beesaftreksel
• 2 aartappels, geskil en in kwarte gesny
• 4 x 10 cm-takke spekboom, blaartjies afgekrap
• witpeper
Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in ’n groot oondvaste kastrol. Braai lam tot bruin. Voeg ui, knoffel, tamaties, kruie en groenbone by. Geur met sout en swartpeper. Gooi kookwater en aftreksel by en meng goed. Plaas aartappels en spekboom bo-op. Maak kastrol toe en plaas in die warm oond vir 1 – 1½ uur, totdat die vleis sag is. Kyk nou en dan dat bredie nie droog kook nie. As dit droog lyk, kan jy ’n bietjie water byvoeg. Geur met witpeper na smaak.
Volkoring-roerbrood
Makliker kry jy nie!
2 klein brode
• 500 ml water
• 10 g sout
• 100 ml heuning
• 15 ml kaneel
• 2 eiers
• 20 ml bakpoeier
• 375 g (670 ml) bruinbroodmeel
• 375 g (625 ml) volkoringmeel
• 75 g (625 ml) semels (digestive bran)
• 80 g (250 ml) hawermout
Verhit oond tot 180 °C. Meng water, sout, heuning, kaneel en eiers in ’n middelslag-mengbak. Voeg bakpoeier, bruinbroodmeel, volkoringmeel, semels en hawermout by. Meng tot stywe beslag vorm (voeg ekstra bruinbroodmeel by indien nodig). Spuit twee standaard-broodpanne van 21 x 11 cm met kleefwerende kossproei. Verdeel deeg tussen panne. Plaas in warm oond en bak 30 – 35 minute of tot goudbruin en gaar. Keer uit op draadrak en laat afkoel. Sit voor met plaasbotter en konfyt.
Roosmalva-en-koejawel-stoompoeding met boegoevla
genoeg vir 6
• 6 roosmalvablare
• 1 x 410 g-blik koejawels, gedreineer
• 125 g botter
• 125 ml gouestroop
• 125 ml strooisuiker
• 2 eiers
• 375 ml bruismeel
• 160 ml melk
• 1 x 350 ml-boks vanieljevla
• 2 takkies boegoe
Spuit ’n 1 liter-keramiekpoedingbak of -emaljebak met kleefwerende kossproei. Pak lagie malvablare onderin. Skep koejawels bo-op. Klop botter, stroop en suiker tot romerig. Voeg eiers een op ’n slag by en klits goed ná elke byvoeging. Roer meel en melk by. Skep die mengsel in die bereide bak en maak bokant glad. Bedek hele bak met ’n moeseliendoek en maak ’n losserige knoop aan die bopunt. Plaas bak in ’n groot pot. Gooi gekookte water in die pot tot by halfpadmerk van bak. Sit deksel op en kook 2 uur oor lae hitte of tot ’n toetspen skoon uitkom. Terwyl poeding stoom, verhit vla met 2 takkies boegoe oor lae hitte. Verwyder van hitte en laat staan 1 uur. Skep boegoe uit en gooi weg. Haal gaar poeding uit pot en laat staan 5 minute. Keer uit op opdienbord. Sit voor met vla.
Suurvy-en-frambooskonfyt
Die suur van die vye gee die konfyt ’n unieke smaak.
genoeg vir 500 ml
• 12 suurvye, oopgesny
• 350 g frambose, vars of bevrore
• 400 g suiker
Plaas al die bestanddele in ’n pot en bring tot kookpunt. Kook 15 – 20 minute of tot dikkerige konfyt vorm. Toets deur ’n bietjie op ’n koue bord te drup. Trek jou vinger daardeur – die konfyt moet stadig in die opening terugvloei. Sit voor met brood.
6 reëls wanneer jy fynbos oes
1. Pluk altyd verantwoordelik, volhoubaar en wettig.
2. Moenie in ’n besoedelde omgewing oes nie.
3. Pluk slegs indien jy die plant 100% kan identifiseer.
4. Moet nooit meer as ’n derde van ’n plant verwyder nie.
5. Pluk net wat jy nodig het.
6. Kweek veldkos in jou tuin.
The post Kook met fynbos + 6 reëls vir die oes van fynbos appeared first on SARIE.