In Noord-Afrika kry jy ’n platbrood, lavash. Dis van meel en water en word op warm, oop vure gebak tot bros. Ek bak dit op ’n oondvaste bakkie sodat die brood soos ’n broodbakkie lyk. Die hoemoes en pesto binne-in die broodbakkie is die doopsous. Gaste breek die brood stuk-stuk af terwyl hulle eet.
genoeg vir 4
• 125 ml water
• 45 ml olyfolie
• 5 ml sout
• 280 g (500 ml) koekmeel
• 1 x 240 g-houer hoemoes
• 350 ml basiliepesto (koop sommer by jou naaste supermark)
Plaas water, olyfolie en sout in elektriese menger met deeghaak. Gooi meel geleidelik by terwyl menger loop en meng tot stywe, kniebare deeg. Knie vir 5 – 8 minute of tot deeg gladde voorkoms het. Jy kan die deeg ook met die hand knie. Plaas deeg in bak wat met olie gesmeer is en bedek.
Laat rus deeg vir 25 minute. Dit gaan nie rys nie, maar die rus laat die gluten in die deeg ontspan sodat jy dit dunner kan uitrol. Verhit oond intussen tot 220 °C. Sprinkel meel op werkvlak. Verdeel deeg in 4 porsies. Rol uit tot sowat 5 mm dik. Plaas 4 oondvaste bakkies van jou keuse onderstebo op ’n bakplaat. Spuit bakkies en bakplaat goed met kleefwerende kossproei.
Plaas uitgerolde deeg bo-oor bakkies sodat die deeg wat oorhang eweredig op die bakplaat rus. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en haal versigtig af. Plaas op opdienbord en skep ’n bietjie hoemoes en pesto in elkeen. Sit voor.
The post Broodbakkie met hoemoes en pesto appeared first on SARIE.