Die herfs is op ons voorstoep en as die koue kom inloer, is dit tyd vir bredie! Maar ons weet krag en tyd is duur en bredies vra al twee. Vat kortpad en maak bredie in jou drukkoker. Dis geurig en binne net 45 minute gaar.

FOTO Michael le Grange
KWEPER-LAMSBREDIE
Wat is winter sonder kwepers op die tafel? Maak jy dit gaar saam met die lam, is dit murgsag geskenkies wat vir jou wag met elke hap.
genoeg vir 4
• 45 ml olyfolie
• 1,5 kg kort lamskenkels (knuckles)
• 2 uie, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 2 stingels seldery, fyngekap
• 2 wortels, in ringe gesny
• 2 kaneelstokke
• ’n knippie saffraan
• 3 lourierblare
• 80 g tamatiepasta
• 2 kwepers, ontklok en in kwarte gesny
• 250 ml witwyn
• 500 ml beesaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit olyfolie tot warm in drukkoker (stoompot). Verbruin lamskenkels sowat 2 – 3 minute in olie. Haal uit pot en hou eenkant. Gebruik dieselfde pot en voeg ui, knoffel, seldery, wortels en kaneel by. Roerbraai vir 2 – 3 minute. Voeg saffraan, lourierblare en tamatiepasta by. Roerbraai nog 2 minute. Voeg res van bestanddele en gebraaide vleis by. Geur met sout en peper, en roer deur. Maak drukkoker toe en laat stoom vir 45 minute. Laat stoom versigtig ontsnap uit pot en sit voor met bykos van jou keuse.
Wenke vir jou stoompot
1. Moenie die stoompot se aangeduide merk vir vloeistof oorskry nie.
2. Onthou om altyd eers die stoom uit te laat voor jy die pot se deksel oopmaak.
3. Dis belangrik om by die regte stoomtyd te hou. As die vloeistof wegkook, sal die inhoud van die pot brand sonder dat jy besef.
4. Die kos smaak en lyk beter as jy die vleis eers verbruin voor jy dit stoom. Hanteer ’n stoompot soos ’n gewone pot: Braai eers alles mooi bruin voordat jy dit toemaak en begin stoom.
5. Die kosgeure is meer intens omdat dit onder druk gaar raak. Hou dit in gedagte wanneer jy speserye gebruik en moenie te veel byvoeg nie – hou by die resep.
The post Maak bredie in net 45 minute appeared first on SARIE.