Quantcast
Channel: Kos – SARIE
Viewing all 712 articles
Browse latest View live

Sjokolade-doughnuts met nougat-vulsel

$
0
0

Spesiaal vir sjokoliste. Baie ryk, maar o, so lekker!

genoeg vir 20

• 1 x basiese doughnut-deeg, klaar gerys
• 750 ml sonneblomolie
• 100 g nougat, in stukke gebreek
• 240 g melksjokolade, in blokkies gebreek
• 250 ml room
• 200 g 70%-donkersjokolade, in blokkies gebreek
• klein sjokoladekoekies van jou keuse

Keer die gerysde deeg uit op ’n meelbestrooide werkvlak. Sprinkel nog meel op die deeg voor jy dit afknie, en rol dan uit in lang strook van 2 cm dik. Druk sirkels uit met ’n koekiedrukker van 5 cm. Verhit die olie in ’n kastrol. Toets eers die olie met ’n stukkie afvaldeeg – dit moet stadig bruin braai. As die olie te warm is, sal die doughnut buite bruin braai terwyl dit nog rou is binne. Braai die deegsirkels (nie almal op een slag nie) tot mooi goudbruin en dreineer op kombuispapier. Laat afkoel.

Plaas die nougat, sjokolade en room in ’n kastrol. Verhit oor lae hitte en roer nou en dan tot gesmelt. Haal af van die hitte en laat afkoel. Verkoel die vulsel verder in die yskas. Maak ’n klein snytjie aan die kant van elke doughnut. Vul ’n spuitsak met die koue vulsel en spuit in die doughnuts. Smelt die donkersjokolade in ’n mengbak oor ’n kastrol met kookwater. Doop elke gevulde doughnut se bokant in die gesmelte sjokolade en plaas ’n koekie bo-op. Laat die sjokolade hard word en sit voor.

FOTO Mickey Hoyle

FOTO Mickey Hoyle

The post Sjokolade-doughnuts met nougat-vulsel appeared first on SARIE.


4 bredies perfek vir winter

$
0
0

Die winter is nou naby, al voel dit op die oomblik nie vir Kapenaars so nie. Wat is in bibberweer lekkerder as ’n geurige, warm bredie? Hier’s vier resepte wat jou deur die koue seisoen gaan dra. Heerlik!

1. Kweper-lamsbredie in net 45 minute

Ons weet krag en tyd is duur en bredies vra al twee. Vat kortpad en maak bredie in jou drukkoker. Dis geurig en binne net 45 minute gaar. Klik hier vir die resep.

FOTO Michael le Grange

FOTO Michael le Grange

2. Groenboontjie-bredie

Hierdie is ’n treffer perfek vir die winter! Klik hier vir die resep.

sk0709budget05

FOTO Mickey Hoyle

3. Marokkaanse hoenderbredie

Die speserye van Noord-Afrikaanse lande soos Marokko is geurig eerder as branderig. Dit sal beslis jou huis met die heerlikste geur vul. Klik hier vir die resep.

FOTO Donna Lewis

FOTO Donna Lewis

4. Tamatiebredie

Hierdie bredie is beslis ’n staatmaker, klik hier vir die resep.

FOTO Mickey Hoyle

FOTO Mickey Hoyle

 

The post 4 bredies perfek vir winter appeared first on SARIE.

Rysfrikkadelle in kerriesous

$
0
0

My ma het gereeld hierdie gereg gemaak as middel-van-die-week-ete.

• 15 ml olyfolie
• 15 ml botter
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 30 ml kerriepoeier
• 15 ml fyn koljander
• 500 g maalvleis
• hand vol vars koljander, gekap
• 1 koppie gaar rys
• 1 eier
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 350 ml tamatiepuree
• 125 ml rooiwyn
• 1 x 400 g-blikkie gekapte tamaties
• 300 g vars kersietamaties, gehalveer

Verhit olyfolie en botter in ’n pan. Braai ui en knoffel 5 minute liggies of tot dit begin verkleur. Voeg speserye by en braai nog 5 minute. Voeg gebraaide ui-mengel by rou maalvleis. Voeg vars koljander, rys en eier by. Meng goed en geur met sout en peper. Vorm 16 balle wat so groot is soos ’n gholfbal. Bring tamatiepuree, rooiwyn en geblikte tamaties tot kookpunt in ’n vlak pot – dit moet groot genoeg wees vir al die frikkadelle. Geur goed met sout en peper. Pak frikkadelle in sous en maak pot toe met deksel. Stowe 20 minute oor lae hitte of tot frikkadelle gaar is. Verwyder van hitte en sprinkel vars tamaties oor. Sit voor.

The post Rysfrikkadelle in kerriesous appeared first on SARIE.

Cheers saam met ons op Bierdag!

$
0
0

Sondag 23 April vier die wêreld Duitse Bierdag. En hier aan die einde van ’n besige week is daar mos min dinge so lekker as om agteroor te sit met ’n yskoue bier in die hand. Of jy nou van lager, ale of dunkel hou, elke smaak het sy bier-maat! As jy nie die Stellenbosch Boetiekbierfees (Craft Beer) kan meemaak nie, het ons vir jou ‘n paar ander maniere om dit te vier!

Met soveel Duitse biere om van te kies is dit amper onmoontlik om op een te besluit. Ons leer jou hoe:

k6e8825_edit

 

Indien jy eerder ‘n biertjie in jou kos wil proe as in ‘n glas, probeer Herman se resep vir bier-mosterd – perfek saam met jou Sondag middag-maal!

FOTO  Donna Lewis SARIE KOS JUN/JUL 2012

FOTO Donna Lewis
SARIE KOS JUN/JUL 2012

 

En vir die bittereinders, leer ons jou hoe om jou eie bier te maak.

20150318-_K6E9255-Edit-3

CHEERS!

Bron: www.daysoftheyear.com

The post Cheers saam met ons op Bierdag! appeared first on SARIE.

’n Goud op goud kuier – al die resepte

$
0
0

Wanneer Herman se voordeurklokkie lui weet hy dis tyd om die potte nader te trek en te begin kook. Vanaand se gas op Okkasie-inspirasie is Lazelle Cronje en sy soek ’n Great Gatsby-okkasie.

Hoe gemaak? Maklik, jy doen ’n goud op goud op goud! Van die kos tot die dekor, luuks en oordadig. Perfek vir ’n Great Gatsby-geleentheid.

Lazelle se goud-op-goud-spyskaart
• Steurgarnale geposjeer in botter met tuisgemaakte mayonnaise en vinkelslaai
• Lamsboud met kruie, feta en parmesaankaas
• Grondboontjie-en-karamel-skommel

BO4A0137

BO4A0148

Steurgarnale geposjeer in botter met tuisgemaakte mayonnaise en vinkelslaai

genoeg vir 6

• 35 steurgarnale, skoongemaak
• 1 kg botter
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 heel knoffelbol
• sowat 20 ml olyfolie
• 4 eiergele
• 2,5 ml sout
• 30 ml suurlemoensap
• 500 ml olyfolie
• 20 ml fyngekapte pietersielie

Smelt botter in groot pot en hou oor lae hitte. Geur garnale goed met sout en peper, plaas in warm botter. Laat posjeer vir 8-10 minute of tot garnale sag en gaar is. Skep uit en hou eenkant terwyl jy die mayonnaise maak.

Tuisgemaakte mayonnaise:
Stap 1: Verhit oond tot 180 °C. Sny knoffelbol bo-op. Plaas op foelie of bakpapier. Gooi 20 ml olyfolie oor en vou foelie/bakpapier toe. Plaas bedekte knoffelbol op bakplaat. Oondbraai vir sowat 30 minute in warm oond tot knoffel sag is. Stap 2: Plaas eiergele, sout en suurlemoensap in ’n mengbak. Druk sagte knoffel uit huisies en maak seker daar is geen skil by nie. Klits eiergele en knoffel goed saam met ballonklitser. Stap 3: Gooi olie by eiermengsel terwyl jy klits. Wanneer al die olie bygevoeg is, sal die mayonnaise dik wees. Stap 4: Voeg fyngekapte pietersielie by en meng deur. Sit voor met vars groente.

Lamsboud met kruie, feta en parmesaankaas

genoeg vir 8

• 100 g gepelde amandels
• 6 ansjovis-filette
• handvol harde kruie, fyngekap (roosmaryn, tiemie en origanum)
• 4 fetakaas-wiele
• 2 snye witbrood, korsies verwyder
• 80 ml botter, gesmelt
• 6 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 groot lamsboud, ontbeen
• 300 ml rooiwyn
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 300 g groenbone, stingels afgesny

Verhit oond tot 180 °C. Plaas amandels, ansjovis-filette, harde kruie, feta, brood, botter en knoffel in voedselverwerker. Verwerk op hoëspoed tot goed gemeng. Gebruik ’n skerp mes en vlek die lamsboud oop. Geur goed met sout en swartpeper. Skep vulsel op vleis en versprei eweredig. Rol vleis stewig op en bind vas met kombuistou. Gooi wyn in oondroosterpan. Plaas boud in pan. Geur weer goed met sout en swartpeper. Maak toe met foelie en plaas in warm oond. Rooster toe vir 3 uur. Kyk elke uur of daar nog genoeg vloeistof in die pan is, indien nodig voeg wyn by. Verwyder foelie en voeg groenbone by. Rooster oop vir nog 30 minute of tot goudbruin en tot groenbone gaar is. Plaas op opdienbord en versier die been van die boud met stukkie eetbare bladgoud. Sit voor.

Grondboontjie-en-karamel-skommel

genoeg vir 6

• 200 g (250 ml) suiker
• 200 ml water
• 100 g (108 ml) botter
• 250 ml room
• 250 ml gladde grondboontjiebotter plus ekstra vir opdien
• 1 liter vanieljeroomys plus ekstra vir voorsit
• 400 ml melk
• 1 x 70 g-sakkie kaneelgegeurde springmielies
• 1 x 100 g-sakkie pretzels, in donkersjokolade gedoop

Plaas suiker en water in middelslagpot en verhit oor lae hitte terwyl jy roer. Verhoog hitte sodra suiker opgelos het en bring tot kookpunt. Laat kook 8-10 minute sonder om te roer, totdat goue karamel vorm. Skud pot gereeld heen en weer. Verwyder van hitte en voeg botter en room by. Skud pot liggies totdat alles gemeng is. Laat afkoel.

Verpulp grondboontjiebotter, roomys en melk in voedselverwerker teen ’n hoë spoed tot glad. Skep ’n teelepel ekstra grondboontjiebotter in elk van die 6 glase en smeer teen die kant van glas met agterkant van lepel. Vul derde van glas met melkskommel en skep ’n bietjie karamelsous bo-op. Herhaal lae totdat glas vol is. Plaas ’n skep van die ekstra roomys bo-op met springmielies. Plak pretzels aan kant van glas vas met ’n bietjie grondboontjiebotter. Garneer met eetbare bladgoud. Eet dadelik.

Kyk die voorskou hier:

Onthou, Okkasie-inspirasie is Maandae om 18:30 op Via (DStv-kanaal 147).

The post ’n Goud op goud kuier – al die resepte appeared first on SARIE.

1 minuut-mayonnasie

$
0
0

Spaar jouself tyd en moeite en maak mayonnaise só!

• sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
• ’n knippie sout
• 1 heel eier
• 250 ml ligte olyfolie
• 30 ml dijonmosterd

Plaas al die bestanddele in ’n glasmaatbeker. Druk staafmenger in mengsel tot reg op die bodem van die maatbeker. Skakel menger aan en lig stadig boontoe. ’n Mayonnaise sal vorm teen die tyd dat die staaf weer bo is. Geur goed met sout en peper.

The post 1 minuut-mayonnasie appeared first on SARIE.

Jy kan nou met Dolce & Gabbana kook!

$
0
0

Die kombuis is lankal nie meer net ’n plek van kook en opwas nie, deesdae is dit die hart van die huis. Dis in dié vertrek waar die kuiers begin en eindig.

Vandag is kombuisware, soos yskaste en mengers, kunswerke. Dit kan jou kombuis se dekor komplimenteer. ’n Mooi kombuis bly mooi!

FOTO SMEG

FOTO SMEG

Die Italiaanse handelsmerk SMEG is al jare ’n ikoon van die stylvolle kombuis. Nou het dit hande gevat met Dolce en Gabbana, ’n luukse mode- en skoonheidshuis, om ’n reeks kombuisware uit te bring.

Daar is sitrusdrukkers, broodroosters, koffiemakers, ketels, voedselverwerkers en ’n pragtige menger. 

Op die oomblik is dit nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie.

The post Jy kan nou met Dolce & Gabbana kook! appeared first on SARIE.

Ongebakte sjokoladekoekies

$
0
0

Maak hierdie koekies in ’n japtrap om jou lus vir ’n soetigheid gou-gou te blus. Kinders is gewoonlik mal hieroor. Bêre in ’n lugdigte houer in die yskas.

genoeg vir 24 blokkies

• 60 ml laevet-margarien
• 125 ml vetvrye melk
• 125 ml suikervrye grondboontjiebotter
• 320 ml suikerplaasvervanger (verkieslik fruktose)
• 5 ml vanieljegeursel
• 125 ml kakaopoeier
• 500 ml hawermoutvlokkies
• 500 ml mediumgrof gerasperde klapper

Voer ’n 1,25 liter-nageregbak uit met kleefplastiek en spuit met kleefwerende kossproei. Smelt die margarien in ’n pot en meng met die melk, grondboontjiebotter, suikerplaasvervanger en vanielje. Voeg kakao by en klits goed tot daar geen klonte meer is nie. Voeg die hawermout en klapper by en meng goed. Skep mengsel in voorbereide bak en plaas in yskas tot gestol. Sny in blokkies en sit voor.

Hierdie resep is oorspronklik in SARIE KOS, April / Mei 2012-uitgawe, geplaas. 

Jy sal ook geniet

Paaskolwyntjies

Spesery-klapper-appeltert

The post Ongebakte sjokoladekoekies appeared first on SARIE.


’n Warm looppoeding vir winterkuiers

$
0
0

Dis ’n poeding wat almal wil voorsit om hul gaste te beïndruk. 

(6 porsies)

• 140 g 70%-donkersjokolade, grofgekap
• 140 g ongesoute botter
• 3 eiers
• 3 eiergele
• 85 g strooisuiker
• 45 g meel

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 6 bakkies met botter en sit dit op ’n bakplaat. Plaas die sjokolade en botter in ‘n glasbak. Bring water tot kookpunt in ’n kastrol. Skakel die plaat af en sit die glasbak bo-op die kastrol met die kookwater. Roer elke nou en dan tot die sjokolade en botter gesmelt is. (Of smelt dit in die mikrogolf, gestel op hoog vir 3 minute.)

Klits die eiers, eiergele en strooisuiker met ’n elektriese klitser saam tot lig van kleur. Klits die sjokolade-botter-mengsel by. Sif die meel en vou dit versigtig by die mengsel in.

Verdeel die mengsel tussen die bakkies en bak vir 10-12 minute tot gerys. (Verkieslik 10 minute, want dit moet nog plat bo-op wees en nie heeltemal gestol nie. As dit wel bo-op kraak, sal dit nie so baie uitloop nie.) Maak versigtig los en sit dadelik voor saam met room of roomys.

The post ’n Warm looppoeding vir winterkuiers appeared first on SARIE.

Ongebakte sjokoladetert

$
0
0

Die Franse gebruik sjokolade-ganache – ’n mengsel van room en sjokolade – om truffels te maak of koeke te versier. Vir dié ongebakte sjokoladetert gebruik ons dit as vulsel. Dekadent!

Maak 1 groot tert

KORS
• 1 pakkie (200 g) Marie-koekies, fyngemaak
• 110 g (120 ml) botter, gesmelt

VULSEL
• 180 ml room
• 40 g (45 ml) botter
• 200 g donkersjokolade, fyngekap
• 175 g bessies van jou keuse
Meng die koekiekrummels en genoeg botter tot die mengsel soos klam sand lyk. Spuit ’n broodpannetjie van 11 x 21 cm met kleefwerende kossproei, druk die koekiekrummels onderin en langs die kante vas, en sit dit in die yskas terwyl jy die vulsel maak. Gooi die room en botter in ’n middelslag-kastrol en verhit dit tot kookpunt. Gooi die warm roommengsel oor die gekapte sjokolade en roer tot glad voor jy dit in die tertkors giet. Sit dit vir 2-3 uur in die yskas om te stol. Sit dit voor met vars bessies.

The post Ongebakte sjokoladetert appeared first on SARIE.

Die lekkerste sosaties

Soetgoed met net 3 bestanddele elk!

$
0
0

Net ’n handjievol bestanddele en min moeite vir dié lekkernye wat in jou mond sal smelt.

Die meeste van die bestanddele is boonop reeds in jou kas. Kry die maklike resepte hieronder. Daar is 5 om uit te kies!

Sjokolade-patee

Verhit oond tot 180 °C. Kap 300 g sjokolade van goeie gehalte fyn en bring 250 ml room tot kookpunt. Gooi oor sjokolade en roer tot gladde mengsel. Voeg 3 eiergele by en roer tot gemeng. Gooi mengsel in oondvaste bakkies van jou keuse. Plaas in oond en sit dadelik af. Los in oond vir 15 minute. Haal uit oond en laat by kamertemperatuur afkoel tot gestol. Sit voor met vars bessies.

Panna cotta van jogurt & karringmelk

Meng 20 ml poeiergelatien met 60 ml water en laat staan vir 5 minute. Plaas 500 ml perskejogurt en 250 ml karringmelk in middelslag-pot en bring tot kookpunt terwyl jy heeltyd roer tot dit ’n gladde mengsel vorm. Verwyder van hitte en roer geweekte gelatien by. Gooi mengsel in vorm met volume van 800 ml. Laat stol in yskas vir 4 – 6 uur. Doop vorm vinnig in kookwater en keer uit op opdienbord. Sit voor met vars vrugte.

Sjokoladekoek

Verhit oond tot 180 °C. Smelt 450 g donkersjokolade en 115 g (125 ml) botter saam oor ’n pot met kookwater. Roer tot gladde mengsel. Skei 5 eiers en roer eiergele by mengsel. Meng goed. Klits eierwitte tot sagte punte vorm en vou by sjokolademengsel in. Gooi mengsel in 12 x 22 cm-broodpan wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Bak vir 20 – 25 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat in pan afkoel en keer uit. Sit voor met crème fraîche en vars bessies.

Suikervrye skons

Verhit oond tot 180 °C. Sif 280 g (500 ml) bruismeel in groot mengbak. Sny 200 g botter in klein blokkies en voeg by meel. Vryf met vingerpunte in die meel tot mengsel soos growwe sand lyk. Voeg 170 ml volroommelk by en meng tot mengsel bymekaarkom. Keer uit op meelbestrooide oppervlak en druk plat tot sowat 2 cm dik. Druk sirkels uit met 5 cm-koekiedrukker. Plaas op bakplaat wat goed met kleefwerende kossproei gespuit is. Bak vir 20 – 25 minute of tot goudbruin. Sit louwarm voor met styfgeklopte room en konfyt.

Grondboontjiekoekies

Verhit oond tot 180 °C. Meng 250 ml growwe grondboontjiebotter met 200 g (250 ml) witsuiker. Voeg 1 eier by en meng goed. Voer bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Verdeel deeg in 6 porsies en rol elk in ’n ronde bal tussen jou hande. Druk effens plat met vurk. Bak vir 15 – 20 minute of tot goudbruin. Sit voor.

Lees nou

Beste kaaskoek nog? 8 miljoen mense sê ja! (en dis net 3 bestanddele)

Skons met net 3 bestanddele

Die heel maklikste sjokolade-mousse – met net 3 bestanddele

The post Soetgoed met net 3 bestanddele elk! appeared first on SARIE.

Lekker groenboontjie-bredie

$
0
0

4 porsies

• 45 ml olyfolie
• 800 g lamsnek
• 1 ui, fyngekap
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 1 blik (410 g) gekapte tamaties
• 5 ml gemengde droë kruie
• 1 kg bevrore groenbone
• sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
• 250 ml kookwater
• 2 aartappels, geskil en in kwarte gesny

Verhit oond tot 180 °C. Verhit olyfolie in ’n groot oondvaste kastrol. Braai lamsnek tot bruin. Voeg ui en knoffel by. Roer tamaties, kruie en bevrore groenbone by. Geur met sout en swartpeper. Gooi kookwater by en meng goed. Plaas aartappels bo-op. Maak kastrol toe en plaas in die warm oond vir 1 tot 1½ uur, totdat die vleis sag is. Kyk nou en dan dat dit nie droog kook nie. As dit droog lyk, kan jy ’n bietjie water byvoeg.

The post Lekker groenboontjie-bredie appeared first on SARIE.

Hoenderpastei met tiemie-blaardeeg

$
0
0

Deel van die lekker van hoenderpastei is die kors. Maak dit self en jy sal nie weer winkeldeeg gebruik nie.

genoeg vir 6 -8

45 ml olyfolie
4 knoffelhuisies, fyngekap
2 uie, grofgekap
2 suurlemoene, gehalveer
2 heel hoenders
500 ml groenteaftreksel
45 ml botter
250 g wit sampioene
250 ml room
sout en varsgemaalde swartpeper
1 x tiemie-blaardeeg-resep (sien onder)
1 eier

Verhit oond tot 200 °C. Verhit olie in oondvaste pot. Voeg knoffel en uie by en braai tot bruin. Druk halwe suurlemoene in hoenders en braai in warm pot tot bruin. Gooi aftreksel by. Maak pot toe en bak in oond vir 2 uur of tot die vleis van die been loskom. Vlok vleis van bene af en gooi pansappe by. Hou eenkant. Verhit botter in ’n braaipan en braai sampioene tot bruin. Voeg by hoender en meng deur. Gooi room oor en laat prut op lae hitte tot mengsel dik en romerig is. Geur goed met sout en peper. Gooi in ’n oondvaste bak van 30 cm. (Jy kan ook individuele bakkies gebruik.) Rol blaardeeg uit en sny sowat 2 cm groter as bak se rand. Plaas op hoender. Sny woorde of vorms uit orige deeg en sit bo-op. Verf met eier en bak vir 25 – 30 minute of tot goudbruin. Sit warm voor met bruinsous van jou keuse.

Maak die blaardeeg so:


1. Plaas botter, meel en tiemie in groot mengbak. Vryf met vingerpunte tot die tekstuur van growwe brood. Voeg sodawater geleidelik by terwyl jy meng met slaplemmes – vorm deegbal, maar moenie oorwerk nie.


2. Sprinkel koekmeel op werkvlak en rol deeg uit tot sowat 5 mm dik. Jy sal botterklonte sien, dis reg so.


3. Vou eers die voorste punt van die deeg en dan die agterste punt na die middel. Vou twee helftes oor mekaar. Sprinkel nog meel op werkvlak en rol deeg nog een keer uit. Herhaal vouproses en laat rus in yskas vir 20 minute.


4. Rol en vou deeg nog twee maal en laat rus in yskas terwyl jy vulsel maak. Jy kan die deeg tot 4 dae in die yskas hou.

Lees ook

Hoenderpastei-baklava

Hoenderpastei met Barbara en Victor Matfield

Hoenderpastei op ‘n nuwe manier

The post Hoenderpastei met tiemie-blaardeeg appeared first on SARIE.

Deelborde vir Moedersdag

$
0
0

Die nuutste manier om daardie spesiale mens in jou lewe te bederf: Jy pak alles op ’n houtplank en julle eet so saam-saam. Hier is die perfekte deelbord vir ontbyt! 

Soggens moet jy goed eet om jou aptyt die res van die dag in toom te hou. Lekkerder as hierdie maklike Franse roosterbrood en croissants vol sjokolade kry jy nie!

FOTO Micky Hoyle

FOTO Micky Hoyle

Esdoringstroopspek

· 125g Strepiespek
· 45ml Esdoringstroop (maple syrup)

Verhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat uit met foelie. Rangskik spek op bakplaat en verf stroop oor. Oondbraai tot bros.
Hou warm eenkant.

Franse roosterbrood van engelse muffins

· 5 eiers
· 15 ml melk
· sout
· 3 Engelse muffins, gehalveer
· 75 g (80 ml) botter

Klits eiers en melk saam en geur met sout. Plaas 3 halwe muffins op ’n slag in eiers. Laat week sowat 5 minute. Smelt ’n derde van die botter in ’n pan oor lae hitte. Plaas die 3 halwe muffins in warm pan en laat res in eiers week terwyl jy die muffins braai tot gaar. Draai muffins halfpad om en braai tot gaar. Hou warm eenkant en smelt nog ’n derde van botter in pan. Braai res van muffins. Hou geklitste eier eenkant vir croissants.

Sjokolade-gevulde croissants

· 2 croissants
· 60 ml sjokoladesmeer (Nutella)
· versiersuiker

Sny croissants oop, maar nie dwarsdeur nie. Vul met sjokoladesmeer en maak toe. Plaas in geklitse eiers en laat week 5 minute. Smelt laaste derde van botter in dieselfde pan waarin jy die muffins gebraai het. Braai croissants sowat 3 minute. Draai om en braai tot gaar. Haal uit pan en sif bietjie versiersuiker oor. Sit voor met vrugte en esdoringstroop.

Sit voor saam met

· 100 g vars frambose
· 100 g aarbeie
· 100 g bloubessies
· esdoringstroop

The post Deelborde vir Moedersdag appeared first on SARIE.


Nuwe Oreo ontplof in jou mond!

$
0
0

Die nuwe Firework Oreo het Maandagoggend Amerikaanse winkelrakke getref. En dié koekies ontplof letterlik in jou mond! PLUS: Maak jou eie Oreo-nageregte met Herman se maklike resepte.

Amerikaners is Maandagoggend bederf met ’n splinternuwe Oreo-koekie – die Firework Oreo. Die koekie lyk presies soos ’n tradisionele Oreo se buitekant, maar die roomvulsel het blou en rooi “popping candy” – daardie skietende suiker wat ’n eienaardige sensasie in jou mond laat en veral gewild is onder kinders.

Ongelukkig is hierdie vreemde koekie net in Amerika beskikbaar en ook net vir ’n beperkte tyd. Maar gelukkig het Herman Lensing ’n hele paar Oreo-resepte wat jy sommer vanmiddag by die huis kan maak:

Oreo-en-donkersjokolade-roomyskoek

FOTO: Donna Lewis

Trifle met Oreo’s, karamel en donkersjokolade

FOTO Donna Lewis

Herman kry 5 lekkerste Oreo-resepte

FOTO Pinterest

Tuisgemaakte Oreo’s

FOTO Donna Lewis

Het jy dalk ‘n goeie idee vir ‘n Oreo-geur? Die vervaardiger wil graag van jou hoor, én jy kan R6,7 miljoen ryker wees! Gebruik #MyOreoCreation and #Contest op sosiale media. Die kompetisie sluit op 14 Julie.

The post Nuwe Oreo ontplof in jou mond! appeared first on SARIE.

Maak die perfekte roereier só

$
0
0

Roereier moet nooit droog wees nie. Volg dié 5 stappe en jy sal die perfekte roereier kan maak.

Bestanddele

• 4 eiers
• 15 ml melk
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 15 g (15 ml) botter

1. Klits eiers en melk saam in ’n mengbak. Geur met sout en peper.

2. Smelt botter in ’n pan en gooi geklitste eiermengsel in. Die stoofplaat moet op matige hitte gestel wees.

3. Moenie dadelik begin roer nie. Wag tot die eier aan rand van die pan begin stol. Gebruik ’n houtlepel en begin roer van die buitekant af na die middel van die pan toe.

4. Die eier moet nog effe klam wees wanneer jy dit uitskep. Sit dadelik voor.

5. Geniet!

The post Maak die perfekte roereier só appeared first on SARIE.

Kokkedoortjies raai: Wat is gâteau?

$
0
0

 weke op ons TV-kassie kan ons steeds nie glo hoe talentvol die Kokkedoortjies is nie! Ja, die deelnemers van kykNET se Kokkedoortjies weet hoe om hul lyk sjef in die kombuis te hou. Maar hoe goed ken hulle hul kosterme?

SARIE het gaan uitvind!

Wat is gâteau?

Gâteau is ’n ligte sponskoek met baie weelderige versiersel.

Basisresep van sponskoek

Gebruik die basisresep vir die sponskoek-resepte wat volg. Jy kan die koek net so voorsit vir ’n soetigheid. Klik hier.

Onthou om Woensdag om 20:00 vir Kokkedoortjie op kykNET (kanaal 144).

The post Kokkedoortjies raai: Wat is gâteau? appeared first on SARIE.

Kokkedoortjies raai: Wat is esdoringstroop?

$
0
0

 weke op ons TV-kassie kan ons steeds nie glo hoe talentvol die Kokkedoortjies is nie! Ja, die deelnemers van kykNET se Kokkedoortjies weet hoe om hul lyk sjef in die kombuis te hou. Maar hoe goed ken hulle hul kosterme?

SARIE het gaan uitvind!

Wat is esdoringstroop?

Franse roosterbrood met esdoringstroop-spek

Die soet smaak van die esdoringstroop pas goed by die souterigheid van die spek. Klik hier vir die resep.

FOTO Micky Hoyle

Onthou om Woensdag om 20:00 vir Kokkedoortjie op kykNET (kanaal 144).

The post Kokkedoortjies raai: Wat is esdoringstroop? appeared first on SARIE.

Mari-Louis Guy: Só hou jy ’n high tea

$
0
0

Wat is ’n high tea nou eintlik? En hoe verskil dit van ’n middagtee by Ouma se huis? Die kosskrywer en -stilis en aanbieder van kykNET se Kokkedoortjie Mari-Louis Guy verduidelik:

Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks beskou ek middagtee (afternoon tea) as ’n geleentheid waar jy gaste laatmiddag ontvang en vir hulle ’n bordjie soet eetgoed saam met die tee aanbied.

My ouma-hulle het amper elke dag mense so ontvang of vriende en bure gaan besoek vir dieselfde. Die soet in hierdie geval is gewoonlik ’n stukkie koek of ’n bordjie met verskillende soetkoekies.

’n High tea, daarenteen, is ’n meer formele affêre, ’n groot tafel gelaai met ’n goeie keuse van klein happies, soet en sout.

As ons egter terugloer na die Britse oorsprong van hierdie tradisies, dan sien ons die middagtee se ontstaan in die middel van die 19de eeu. Die idee was ’n tussenin-ete so teen vieruur die middag (aandete was eers agtuur). ’n Afternoon tea het bestaan uit drie gange: eers southappies en vingertoebroodjies, dan botterbroodjies of skons met room en dan soetgoed as die derde en laaste gang.

’n High tea was meer iets vir die laer klasse en is so genoem omdat dit by ’n tafel geneem is, terwyl die rykes hul middagtee in lae, gemaklike stoele en op sofas geneem het.

Bloot vir interessantheid: By ’n koninklike tee (royal tea) word altyd sjampanje bedien.

A post shared by Robson Homes (@robson_homes) on

A post shared by Mari-Louis Guy (@marilouisguy) on

Bron: Mari-Louis Guy en Callie Maritz

Besoek hulle webtuiste, Facebook-, Twitter– of Pinterest-blad.

The post Mari-Louis Guy: Só hou jy ’n high tea appeared first on SARIE.

Viewing all 712 articles
Browse latest View live