Ons gaan onder die water vir ons ster-bestanddele van dié week se Inspirasiekos met SARIE: mossels en oesters.
Herman haal saam met SJ Poggenpoel van Peperbaai in Saldanha mossels uit en terug op vaste grond maak Herman ’n roti-brood, mosselkerrie en ’n verfrissende oestergereg met ’n mango-salsa. Skulpvis op sy beste!
Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.
![VIA_FB_Inspirasiekos]()
Hier is die resepte: Smake uit die see!
Roti-brood
Dis ’n Indiese brood en die woord beteken letterlik “lagies gaar deeg”.
![1C3B0019]()
genoeg vir 12
• 250 ml water
• 90 ml olyfolie
• 5 ml sout
• 460 g (1 000 ml) koekmeel, plus ekstra vir uitrol
• 115 g (125 ml) botter, gesmelt
Verhit oond tot 220 °C. Plaas water, olie, sout in middelslag-mengbak. Roer met houtlepel terwyl jy meel geleidelik byvoeg totdat die deeg ’n stywe, kniebare vorm het.
Knie 5 – 8 minute op meelbestrooide werkvlak of tot deeg glad en elasties is. Plaas in skoon bak wat met olie gesmeer is en laat rus 30 minute op warm plek. Rol deeg op meelbestrooide werkvlak tot 3 mm dik uit. Verf hele stuk deeg met botter. Rol deeg op in ’n lang deegwors. Sny wors in 12 stukke.
Rol elke stuk in vry vorm uit op ’n meelbestrooide werkvlak tot sowat 3 mm dik. Verhit kleefvrye braaipan tot matig warm en braai brood met bietjie olyfolie tot goudbruin en gaar, sowat 5 minute per kant. Sit voor saam met mosselkerrie.
Mosselkerrie
Mossels was nog nooit so fênsie nie!
![1C3B0060]()
genoeg vir 4
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, fyngekap
• 30 ml vinkelsaad
• 30 ml rissievlokkies
• 45 ml gerookte masala
• 20 ml borrie
• 2 lourierblare
• 2 x 410 g-blikke klappermelk
• 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
• 1 hand vol koljander, fyngekap
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 kg mossels, skoongemaak
Verhit olyfolie in groot braaipan tot warm. Voeg ui, vinkelsaad en rissievlokkies by. Roerbraai vir 5 minute of tot uie begin verbruin – as dit lyk of die speserye begin brand, gooi ’n bietjie water by. Voeg res van speserye vir die sous by en roerbraai verder vir nog 5 minute of tot mengsel geurig is. Gooi klappermelk en tamaties by. Meng deur. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 20 – 25 minute of tot dik, romerige sous vorm. Roer vars koljander deur. Geur goed met sout en peper. Gooi mossels by en maak pot toe. Laat kook vir nog 8 minute of totdat mosseldoppe oopgaan. Roer deur en sit voor.
Oesters met mango-salsa
Die soet tropiese smake is hemels saam met oesters.
![1C3B0036]()
genoeg vir 10
• ½ rooi-ui, baie fyngekap
• 1 rooi brandrissie, fyngekap
• 1 vars mango, geskil en in blokkies gesny
• pulp van 4 grenadellas
• 1 hand vol vars koljander fyngekap
• sap en skil van 1 suurlemoen
• 20 ml sjerrie-asyn (of witwynasyn)
• 20 vars oesters
Meng al die bestanddele behalwe die oesters. Maak oester oop met oestermes en sny los van die dop. Plaas op opdienbord. Skep salsa bo-op en sit voor.
Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte
Waterblommetjie | Sout
![Spekko Promosie Tag]()
![SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B]()
Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.
The post Ondersese wonders: mossels en oesters vir Inspirasiekos appeared first on SARIE.