Sout van die aarde, met ’n korreltjie sout neem, sout nodig hê, ’n sak sout met iemand opeet, jou sout verdien, ek wis van g’n sout of water nie, hy is sy sout werd …
Wat is ’n wêreld sonder sout?
Gelukkig hoef ons nooit te weet nie. SARIE se gesoute kosredakteur, Herman Lensing, maak ’n Weskus-draai by Jan Kotze, ’n soutvervaardiger van Velddrif.
Hy wys Herman hoe die soutproses werk en dan maak Herman gebakte beet, sout-lamsboud met salsa verde en ’n gesoute piesang-karamelpoeding. Mmmmm… sout was nog nooit so soet soos met dié nagereg nie!
Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.
![VIA_FB_IKMS_Sout]()
Hier is die resepte met koning sout!
Beet gebak in sout
![Inspirasiekos_sout_beetslaai]()
Die sout maak die geur van die beet meer intens.
genoeg vir 6
• 2 kg growwe sout
• 40 ml vinkelsaad
• 12 groot bete, met skil
• 1 x 80 g-sakkie roketslaai
• 12 radyse
• sout en varsgemaalde swartpeper
Slaaisous
• 20 ml korrelmosterd
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 30 ml witwynasyn
• 80 ml olyfolie
• 1 x 250 g bakkie crème fraîche
Verhit oond tot 200 °C. Sprinkel helfte van growwe sout in oondbraaibak. Pak bete op sout en sprinkel vinkel oor. Bedek met res van sout.
Oondbraai 90 minute of tot bete sag en gaar is. Keer pan om en breek soutkors oop deur met ’n deegroller daarop te slaan terwyl dit nog warm is. Skil bete met skerp mes en sny elkeen middeldeur. Plaas roket en radyse op ’n opdienbord. Meng al die slaaisousbestanddele behalwe die crème fraîche. Gooi sous oor slaai en skep lepels vol crème fraîche bo-op. Geur goed en sit voor.
Lamsboud gebak in sout met salsa verde
![Inspirasiekos_sout_lamsboud]()
Die soutkors hou al die vog binne die lam sodat die vleis sappiger is.
genoeg vir 6 – 8
• 4 takkies roosmaryn (so lank soos wat jy kan kry)
• 3 kg lamsboud aan die been
• 10 knoffelhuisies
• 60 ml olyfolie
• 1,25 kg sout
• 8 eierwitte
Salsa verde
• 2 ansjovisfilette
• 1 x 60 g-bakkie Italiaanse pietersielie
• 80 ml olyfolie
• sap en skil van 2 suurlemoene
• soetmosterd vir voorsit
Verhit oond tot 180 °C. Pak roosmaryn in oondroosterbak en plaas lamsboud bo-op. Gebruik skerp mes se punt en steek 10 gate in die boud. Druk knoffelhuisie in elke gaatjie. Sprinkel olyfolie oor lam.
Meng sout en eierwitte saam tot mengsel lyk soos klam seesand. Skep mengsel oor lamsboud – maak seker die hele boud is bedek. Bak in oond vir 90 minute. Haal uit en laat rus vir 20 minute. Breek soutkors oop en verwyder die meeste van die sout. Sny lam in skywe en sit voor met salsa verde.
Maak salsa verde so
Plaas ansjovis, pietersielie, olyfolie, sap en skil van suurlemoen in voedselverwerker. Maak fyn tot gladde puree. Geur met sout en peper.
Banana split, opgetof!
![Inspirasiekos_sout_banana split]()
Wie onthou nie die klassieke nagereg van die 1980’s nie? Hier is my weergawe, reg om verder die 21ste eeu in te vlieg!
genoeg vir 6
• 200 g witsuiker
• 100 ml water
• 50 ml botter
• 125 ml room
• 5 ml sout
• 6 piesangs, geskil en elk in 6 skywe gesny
• 250 ml grenadellasmeer (curd)
• 1 liter vanieljeroomys
• kleurstrooisels vir oorsprinkel
Gooi suiker in ’n pot en voeg water en botter by. Roer met ’n draadklitser oor lae hitte tot opgelos. Bring tot kookpunt en laat vinnig kook tot ’n goue karamel vorm, sowat 8 -10 minute. Moenie roer terwyl die sous kook nie. Voeg 125 ml room by en meng vinnig met ’n draadklitser tot ’n gladde karamel vorm. Werk versigtig, want die mengsel is baie warm. Laat koel af en gooi sout by.
Pak piesangskywe op opdienbord. Skep lepels vol grenadellasmeer tussenin. Skep balle roomys by. Gooi kleurstrooisels en karamelsous oor. Sit voor.
![Spekko Promosie Tag]()
![SPEKKO VIA SPONSORSHIP DIGITAL IMAGE V2-B]()
Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.
The post Toor met sout vir Inspirasiekos appeared first on SARIE.