Quantcast
Channel: Kos – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

SARIE Voorbladgesig: Hier is Herman se resepte!

$
0
0

Herman Lensing kook vir die Top-10 en ’n spesiale gas eet saam! Dis episode 5 van SARIE Voorbladgesig en hoewel ons vir al die mooi Voorbladgesig-finaliste gekyk het, is ons nuuskierigheid oor Herman se ete geprikkel. Hier is die resepte …

Het jy al episode 5 van SARIE Voorbladgesig gekyk? En was jy verbaas oor die spesiale gas wat saam aan tafel geeet het? Hier is die resepte van die ete wat Herman vir die finaliste, Fanie Cronjé, Michélle van Breda en die spesiale gas gekook het. Nou kan jy saam eet!

Koring-en-gortslaai

In Noord-Afrika staan dié slaai bekend as tabbouleh. Graan is ’n goedkoop manier om baie monde te voed.

genoeg vir 12

• 250 g bulgurkoring (kyk by gesondheidsafdeling)
• 250 g pêrelgort (pearl barley)
• 250 ml kookwater
• 250 g koeskoes
• 100 ml olyfolie
• 125 ml hoemoes
• 50 ml kookwater
• sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
• groot hand vol Italiaanse pietersielie, fyngekap
• hand vol kruisement, fyngekap
• 2 rooi-uie, fyngekap
• 300 g kersietamaties, gehalveer
• 5 wortels, in blokkies gesny
• 1 komkommer, in blokkies gesny
• sout en varsgemaalde swartpeper

Plaas bulgurkoring en sowat 500 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook tot al die vloeistof geabsorbeer is, sowat 10 minute. Hou eenkant.

Plaas pêrelgort en 750 ml water in pot. Bring tot kookpunt en kook tot gort sag is, 15-20 minute. Dreineer en hou eenkant.

Gooi 250 ml kookwater oor koeskoes en laat staan 10 minute. Roer los met vurk en voeg gaar koring en gort by. Meng deur en hou eenkant.

Meng olyfolie, hoemoes en 50 ml kookwater tot glad. Voeg sap en skil van suurlemoen by. Hou sous eenkant.

Voeg res van bestanddele by koringmengsel, gooi sous oor en meng deur. Geur goed met sout en peper. Sit voor.

Slaai van beet gebak in sout

Die sout maak die geur van die beet meer intens.

genoeg vir 6

• 2 kg growwe sout
• 12 groot bete, met skil
• 40 ml vinkelsaad
• 1 x 80 g-sakkie roketblare
• 12 radyse
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 1 x 250 g-bakkie crème fraîche

Slaaisous

• 20 ml korrelmosterd
• 2 knoffelhuisies, fyngekap
• 30 ml witwynasyn
• 80 ml olyfolie

Verhit oond tot 200 °C. Sprinkel helfte van growwe sout in oondbraaibak. Pak bete op sout en sprinkel vinkel oor. Bedek met res van sout.

Oondbraai 90 minute of tot bete sag en gaar is. Keer uit pan en breek soutkors oop deur met ’n deegroller daarop te kap terwyl dit nog warm is. Skil afgekoelde bete met skerp mes en sny elkeen middeldeur. Plaas saam met roket en radyse op ’n opdienbord.

Meng al die slaaisousbestanddele. Gooi sous oor slaai en skep lepels vol crème fraîche bo-op. Geur goed en sit voor.

Heuningpatatslaai

Daar is min dinge so lekker soos patats wat met baie botter en suiker stadig gestowe is. Pleks daarvan om dit te stowe, kan jy klein patats ook met baie botter en heuning in die oond bak – dis minder moeite en smaak net so lekker. Ek sit dit koud voor as slaai of bykos by snoek oor die kole.

genoeg vir 6

• 8 klein patats
• 60 ml heuning
• 4 knoffelhuisies, grofgekap
• 60 ml botter, gesmelt
• 4 stingels tiemie
• 45 ml olyfolie
• 20 ml fyn kaneel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 100 g pekanneute
• 80 g slaaiblare van jou keuse
• 250 ml crème fraîche

Verhit oond tot 180 °C. Skrop die patats onder lopende water en sny dit in 2 cm-breë ringe. Pak die ringe snykant na bo in ’n groot oondroosterbak.

Meng heuning, knoffel, botter, tiemie, olyfolie en kaneel saam en gooi dit oor die patats. Geur goed met sout en peper. Bedek bak met tinfoelie, plaas in warm oond en bak patats tot sag en gaar, sowat 20-25 minute. Verwyder foelie en bak nog 5 minute tot mooi goudbruin. Laat afkoel tot louwarm.

Rooster pekanneute in ’n warm pan tot goudbruin en kap grof op. Plaas slaaiblare in ’n opdienbord en skep patatskywe bo-op. Besprinkel met pekanneute en skep crème fraîche oor. Sit voor.

Lamsrol met Jerusalem-hoemoes

genoeg vir 8

• 350 g droë kekerertjies
• 45 ml olyfolie
• 2 uie, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap
• 2 wortels, in ringe gesny
• 4 stingels seldery, gekap
• 3 lourierblare
• 30 ml vinkelsaad
• 1 x 250 g-pakkie spek, gekap
• 1 ontbeende lamsblad, opgerol en met kombuistou vasgebind
• 2 x 400 g-blikke kersietamaties
• 250 ml beesaftreksel
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 250 ml tahini-pasta
• hand vol pietersielie, grofgekap
• 4 knoffelhuisies, gekap
• sap en skil van 2 suurlemoene
• 150 ml water
• goeie olyfolie vir voorsit

Aand voor die tyd: Verhit oond tot 100 °C. Bedek kekerertjies met koue water en laat oornag week. (Ja, ek weet dis moeite, maar glo my, jy gaan die verskil proe!) Verhit olyfolie in ’n groot pot. Voeg ui, knoffel, wortel, seldery en lourierblare by en roerbraai 5 minute. Voeg vinkelsaad en spek by en braai nog 5-8 minute of tot die spek begin verbruin. Plaas lamsrol bo-op die groente. Voeg tamaties en aftreksel by, geur baie goed met sout en peper, maak pot toe en bak lamsrol oornag of sowat 8 uur lank in die louwarm oond.

Volgende dag: Dreineer geweekte kekerertjies, plaas in ’n skoon pot en geur met 5 ml sout. Bedek met water, bring tot kookpunt en kook sowat 30 minute tot sag. Dreineer en laat afkoel. Plaas gaar kekerertjies saam met tahini, pietersielie, knoffel en suurlemoensap en -skil in ’n voedselverwerker. Gooi 150 ml water by en pols by hoë spoed tot gladde puree. Geur baie goed met sout en peper. Hou eenkant.

Haal lamsrol uit pot, knip toue los en skeur vleis in groot stukke. Skep hoemoes op ’n groot opdienbord en smeer dit plat. Plaas vleisstukke bo-op, skep potsous oor en besprinkel met olyfolie.

Deel-hom-met-mekaar-pavlova

genoeg vir 8

• 8 eierwitte
• 250 g (315 ml) strooisuiker
• 200 g (385 ml) versiersuiker, gesif
• 25 g mielieblom, gesif

Klits eierwitte tot sagte punte vorm en klits strooisuiker bietjie vir bietjie by totdat mengsel styf is. Vou versiersuiker en mielieblom versigtig by meringue in.

Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en spuit goed met kleefwerende kossproei. Trek 2 groot sirkels op bakpapier en vul ’n spuitsak met die meringuemengsel. Spuit al om buiterand van sirkels met die meringue en skep dan lepels vol meringue in die binnekant om dit op te vul. Bak teen 120 °C vir 3 uur totdat meringue heeltemal droog is. Laat heeltemal koud word in oond.

Herman saam met finaliste Nadia, Shene, Sune, Marize en Ashleigh.

Rooiwyn-pere

genoeg vir 6

• 6 pere
• 25 ml mielieblom
• 1 bottel rooiwyn
• 110 g (125 ml) suiker
• 1 kaneelstok
• 2 steranyse
• skil van 1 lemoen en 1 suurlemoen
• 1 liter room

Skil pere – hou stingels aan – en plaas in water met ’n bietjie sout. Meng mielieblom met ’n bietjie rooiwyn om ’n dun pasta te vorm. Bring res van rooiwyn saam met suiker, kaneel, steranyse en skil in ’n groot pot tot kookpunt. Roer tot al die suiker opgelos het. Plaas pere heel in rooiwyn, bedek en laat kook vir ongeveer 25 minute tot sag (draai die pere nou en dan om).

Verwyder pere uit stroop en gooi sous deur ’n sif. Gooi sous terug in kastrol. Voeg mielieblom-mengsel by en kook stadig tot verdik. Gooi sous oor pere en laat koud word.

Sit die pavlova bymekaar: Klits room styf. Plaas helfte van geklitste room bo-op een meringue-sirkel. Plaas ander meringue-sirkel bo-op en skep orige room oor. Sny rooiwyn-pere in skywe en rangskik bo-op. Bedruip pavlova met van die stroop.

Hier is episode 5 se herhalings

Lees nou

Bruidspaar van die Jaar 2017/’18: Skryf in!

Sien ons Voorbladgesig-Top-10 agter die skerms!

Beste braaibroodjies

The post SARIE Voorbladgesig: Hier is Herman se resepte! appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 712

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!