Die lekker van dié kerrie lê in die sous waarin die frikkadelle gaargemaak word. Neem jou tyd met die sous.
genoeg vir 6
SOUS
- 45 ml olyfolie
- 1 ui, fyngekap
- 30 ml vinkelsaad
- 30 ml rissievlokkies
- 45 ml gerookte masala
- 20 ml borrie
- 2 lourierblare
- 2 x 410 g-blikke
- klappermelk
- 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
- 1 hand vol koljander, fyngekap
- sout en varsgemaalde swartpeper
FRIKKADELLE
- 500 g maer maalvleis
- 1 ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngekap
- 1 cm vars gemmer, fyngerasper
- 15 ml fyn koljander
- 5 ml fyn kaneel
- 15 ml fyn komyn
- 2 eiers
- 100 g fyn broodkrummels
Sous
Verhit olyfolie in groot braaipan tot warm. Voeg ui, vinkelsaad en rissievlokkies by. Roerbraai vir 5 minute of tot uie begin verbruin – as dit lyk of die speserye begin brand, gooi ’n bietjie water by. Voeg res van speserye vir die sous by en roerbraai verder vir nog 5 minute of tot mengsel geurig is. Gooi klappermelk en tamaties by. Meng deur. Verlaag hitte en laat stadig prut vir 20 – 25 minute of tot dik, romerige sous vorm. Roer vars koljander deur. Geur goed met sout en peper. Hou eenkant.
Frikkadelle
Verhit oond tot 180 °C. Meng al die bestanddele en geur goed. Verdeel mengsel in 16 frikkadelle. Pak frikkadelle in oondbak en gooi kerriesous oor. Bak vir 25 – 30 minute of tot frikkadelle gaar is en begin verbruin. Sit voor met geelrys.
Geelrys, opgetof
Gee dit ekstra smaak met amandelvlokkies.
genoeg vir 6 – 8
- 500 ml basmati-rys
- 1 000 ml water
- 45 ml borrie
- 5 ml sout
- 10 ml suiker
- 1 x 250 g-pakkie rosyne
- 100 g amandelvlokkies
- 1 hand vol koljander, fyngekap
Plaas rys, water, borrie, sout en suiker in groot pot. Bring tot kookpunt en verlaag hitte. Laat stadig prut tot rys sag en gaar is, sowat 15 – 20 minute. Gooi nog water by indien nodig. Voeg rosyne, amandels en koljander by. Meng deur. Sit voor saam met kerrie.
The post Frikkadel-kerrie met geelrys appeared first on SARIE.