Malvapoeding is sekerlik een van ons gewildste poedings. Voeg geblikte pere by en verander dit in ’n heeltemal nuwe lekkerny.
genoeg vir 4 – 6
• 13 g (15 ml) botter
• 100 g (125 ml) suiker
• 1 eier, geklits
• 140 g (250 ml) koekmeel
• knippie sout
• 5 ml koeksoda
• 95 ml melk
• 15 ml fyn appelkooskonfyt
• 15 ml bruin asyn
• 2 blikke (240 g elk) baba-pere, gedreineer
Verhit oond tot 180 °C. Room botter en suiker saam in ’n elektriese menger se mengbak. Die botter lyk dalk min, maar dit werk goed. Voeg eier by en klits goed tot sag en romerig. Sif meel en sout saam en voeg by bottermengsel. Klits goed tot glad. Meng koeksoda met melk en voeg by meelmengsel saam met die konfyt en asyn. Meng goed. Skep in langwerpige pan van sowat 30 x 10 cm wat met kleefwerende kossproei gespuit is. Rangskik die pere in die deeg en plaas in oond. Bak sowat 40 minute. Toets met ’n dun pennetjie om seker te maak die poeding is gaar – die pennetjie moet skoon uitkom. Maak intussen die sous.
Sous
• 175 ml ingedampte melk
• 125 ml warm water
• 200 g (250 ml) suiker
• 13 g (15 ml) botter
• 2 ml vanieljegeursel
Gooi ingedampte melk, warm water en suiker in ’n kastrol. Bring tot kookpunt terwyl jy roer. Die suiker moet gesmelt wees voor die mengsel kook. Voeg botter en geursel by. Wanneer botter gesmelt is, gooi warm sous oor poeding. Sit voor met vanieljeroomys.

FOTO Micky Hoyle
The post Peermalvapoeding appeared first on SARIE.