Soufflé is een van die mees klassieke Franse geregte. Dit is regtig nie baie moeilik om te maak nie: Jy maak ’n witsous, voeg jou kaas of wat ook al by, en dan klop jy die eierwitte styf en vou dit in.
• 250 ml melk
• 20 ml botter
• 30 ml meel
• 3 eiergele
• 100 g gruyère-kaas, fyngerasper
• 5 vars basilieblare, fyngekap
• sout en peper
• 5 eierwitte
• 30 ml fyn parmesaankaas
Verhit oond tot 200 °C. Verhit melk effens. Smelt botter in ’n diep kastrol en voeg meel by. Roer die mengsel tot dit ’n pasta vorm. Voeg verhitte melk bietjie vir bietjie by en roer goed. Haal kastrol van hitte af. Laat effens afkoel. Voeg eiergele een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Plaas terug op die stoofplaat en hou aan met roer tot mengsel verdik het. Haal af van hitte en voeg gruyère-kaas en basiliekruid by. Geur met sout en peper.
Wenk: Jy kan in dié stadium die mengsel laat staan en dan kan jy die geklitste eierwitte invou net voor jy dit wil bak.
Klits eierwitte styf en vou versigtig by kaasmengsel in. Skep in klein koppies of ramekin-bakkies, maar maak dit net ¾ vol. Sprinkel fyn parmesaankaas bo-op. Trek met ’n mes ’n sirkel teen die rand van bakkie of koppie om te verseker dat die soufflé mooi rys. Plaas op bakplaat en sit in oond. Stel nou onmiddellik die temperatuur af na 180 °C en bak vir 20 minute. Haal uit en sit dadelik voor.
The post Kaas-en-basilie-soufflé appeared first on SARIE.