Vandag is Nasionale Melktertdag en ons mond water vir ’n sny melktert. Warm of koud, met ekstra kaneel of daarsonder, ’n stuk melktert bly ’n groot bederf.
Vir drie heerlike resepte klik hier.
Mari-Louis Guy en haar broer, Callie Maritz, is pas klaargeskryf aan hul nuwe kookboek, Die Suid-Afrikaanse melktert-versameling. Ons het by Mari-Louis gaan inloer.
’n Hele boek oor melktert! Waar kom dit vandaan?
Ek het ’n obsessie met melktert. Dis ons mees ikoniese gebak en ons staan steeds verstom oor die smaaksensasie wat jy deur klein veranderinge aan die basiese vla en kors teweeg kan bring. Ons kan maklik nog drie boeke vol resepte maak.
Die inspirasie vir die resep vir hierdie melktert met ’n twist kom van ons eie kosredakteur, Herman Lensing. Mari-Louis deel die resep spesiaal met ons.
Crème brûlée-doughnuts
Lewer 8–10 doughnuts
Dis absoluut uit die boonste rakke … Ons vriend Herman Lensing, een van 2016 se Top 200- Invloedrykste Jong Suid-Afrikaners, het onlangs sy oliebolle nuwe hoogtes laat bereik met melktert. Ons gedagtes het seker gekruis!
Oliebolle
3 k (420 g) koekmeel
1 t (5 ml) sout
3 e (45 ml) strooisuiker
3 eiers
60 g botter, gesmelt
1⁄4 k (65 ml) water
1 t (5 ml) vanieljegeursel
1⁄2 k (125 ml) melk
1 pakkie (10 g) kitsgis
plantaardige olie vir diepbraai
1. Plaas die meel, sout en strooisuiker in die mengbak van ’n elektriese menger, gebruik die deeghaak-hegstuk en meng saam.
2. Klits die eiers, botter, water en vanieljegeursel saam in ’n aparte mengbak.
3. Verhit die melk tot louwarm, strooi die kitsgis op die melkoppervlak en laat staan vir 2 minute.
4. Stel die menger op lae spoed, voeg die eiermengsel by die meelmengsel en giet dan die gis-melkmengsel in ’n dun straaltjie by. Meng tot ’n sagte deeg.
5. Keer uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie tot ’n gladde, blink deeg.
6. Deel die deeg in ongeveer 12 balle en plaas hulle 5 cm uitmekaar op ’n bakplaat. Bedek met ’n klam afdroogdoek en laat rys tot dubbel die grootte.
7. Verhit ongeveer 5 cm olie in ’n groot kastrol oor matige hitte en braai ’n paar deegballe op ’n slag. Draai gou om in die begin, ná ongeveer 1 minuut per kant, om die oliebolle simmetries te hou. Draai daarna elke 2 minute om tot die oliebolle goudbruin van kleur is.
8. Plaas op kombuispapier om die oortollige olie te absorbeer.
9. Laat afkoel.
10. Aanmekaarsit: Skep die vulsel (sien resep hieronder) in ’n versiersak met ’n no. 4-spuitpunt, druk dit halfpad in die middel van elke oliebol in en spuit vol vulsel. Versier met brûlée-sirkels (resep hieronder).
Vulsel
21⁄2 k (625 ml) melk
1⁄2 k (100 g) suiker
gedroogde nartjieskil
6 eiergele
6 e (90 ml) mielieblom
2 t (10 ml) vanieljegeursel
1. Meng 1 koppie (250 ml) van die melk, die suiker en nartjieskil saam in ’n kastrol oor matige hitte.
2. Verhit tot die nartjiegeur ingetrek en die suiker opgelos is. Verwyder van die hitte en haal die nartjieskil uit.
3. Klits die eiergele, mielieblom en vanieljegeursel saam met die laaste 11⁄2 koppie (375 ml) melk.
4. Hou aan klits en giet die warm melkmengsel in ’n dun straaltjie by.
5. Giet die mengsel terug in die kastrol, laat kook oor lae hitte en klits aanhoudend tot verdik. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
Brûlée
1 k (200 g) suiker
1⁄4 k (65 ml) water
1. Verhit die suiker en water in ’n kastrol oor matige hitte. Moenie roer nie.
2. Laat die mengsel vir 10–12 minute karamelliseer.
3. Gebruik onmiddellik om brûlée-sirkels te maak.
The post Melktert met ’n twist appeared first on SARIE.