Is daar ’n makliker of smaakliker manier om iemand te verlei as met sjokolade? Ek moet nog die mens ontmoet wat kan nee sê vir sjokolade, want ek weet ek kan nie. Wie durf jou kwalik neem as jy keer op keer swig?
Dis musiek in my ore as ek hoor ’n resep is maklik en bestaan uit net 4 bestanddele – dié brownie-resep is een van hulle.
Met die rand wat val vir die eerste span en slegte nuus wat ons links en regs tref, is dié lekkerte jou beste medisyne.
Eet hierdie brownies sonder skuldgevoel. Nooi jou vriende en familie, want in sulke moeilike tye maak sjokolade nie vet nie.
via GIPHY
Brownie met 4 bestanddele
maak 10-12 skywe
• 600 g (500 ml) sjokoladesmeer – ons het Nutella gebruik
• 4 eiers
• 120 g (215 ml) koekmeel
• 250 g frambose, vars of bevrore
Verhit die oond tot 180 °C. Meng die sjokoladesmeer, eiers en koekmeel tot ’n gladde beslag.
Voer ’n losboomkoekpan van 30 cm met bakpapier uit en spuit dit met kleefwerende kossproei.
Gooi die beslag in die pan en skep die bessies oor. Bak dit vir 25-30 minute tot gestol.
Laat dit heeltemal afkoel voor jy dit uit die pan haal en in blokkies sny om voor te sit. Ja, jy het reg gelees: Jy het sowaar net vier bestanddele nodig om hierdie sjokolade-lekkerte self te maak.
VARIASIE
Vervang die bessies met gekapte neute of witsjokoladesplinters.
5 dinge wat jy van sjokolade móét weet
1. Die woord sjokolade is afgelei van die Asteekse woord xocolatl, wat “bitter water” beteken.
2. Die kakaoboom se saadpeul was die inspirasie vir die vorm van die Coca-Cola-bottel.
3. Sjokolade smelt in jou mond omdat die smeltpunt van kakaobotter 35,5 °C is – net laer as ons liggaamstemperatuur.
4. Sowat 40% van alle vroue en 15% van mans smag gereeld na sjokolade, en omtrent ’n miljard mense bederf hulself elke dag daarmee.
5. Sjokolade is skadelik vir honde omdat dit die stimulant teobromien bevat wat die sentrale senuweestelsel en hartspiere van honde kan vergiftig.
via GIPHY
Lees nou
Dié top-10 SA vakansieplekke raak vinnig vol!
Ons heupe huil, maar ons kook en geniet
The post Brownie met net 4 bestanddele appeared first on SARIE.