Keer op keer word ek verras met die juwele in ons kosskatkis hier op eie bodem. Ons het produkte wat jy nêrens anders kry nie, en ook baie produkte waarvan die gehalte net hier in SA die beste is.
In vandag se episode van Inspirasiekos met SARIE (Maandae om 18:30 op VIA, DStv-kanaal 147) kuier ek by die Rozendal-wynlandgoed buite Stellenbosch waar ’n ongeluk jare gelede gesorg het vir ’n geurryke eindproduk: Balsemasyn.
Dis hier op ’n prentjiemooi plaas waar John Blignaut ’n unieke asyn maak en die wêreld instuur. Sy botaniese asyn het gesorg vir ’n geurige feesmaal.
Hoe het julle asyn begin maak?
My oupagrootjie wou altyd wyn maak en het sowat 80 jaar gelede sy eerste wyn gemaak, maar dit was nie baie lekker nie. Hy het die vate na ’n stoor geskuif en daar gelos. Jare later het ek eendag gevra wat dit is en die antwoord het gekom “oupa se wyn”. Ek het geproe en dit was ongelooflike lekker balsemasyn!
Wat het julle met die asyn gemaak?
Ons het dit verpak en verkoop steeds die 80 jaar oue asyn by die plaas onder die handelsnaam Rozendal Essentia Vinegar. Dis ’n baie klein bottel asyn, maar jy hoef net ’n bietjie te gebruik om die smaak te waardeer!

Die eerste asynkelder
Watter ander produkte maak julle?
Ons spesialiseer in asyn met botaniese geure. Dink aan roosmalva, fynbos, laventel, roos, vlierblom en nog baie meer. Alles word organies gekweek en natuurlik gegeur. Ons asyn word stadig verouder in houtvate en daarna meng ons die verskillende geure.

Die proe-lokaal by Rozendal.
Waar kan ons die asyn koop en proe?
Besoek ons gerus op die langoed vir ’n unieke balsemasyn-proe. Die produk is by ons of aanlyn te koop by www.rozendal.co.za.
Op ons Inspirasie-spyskaart dié week:
• Slaai van gerookte tamaties en waatlemoen
• Sampioen-en-spek-gnocchi
• Sjokolade-panna cotta met laventel-balsemasyn-bessies
Slaai van gerookte tamaties en waatlemoen
genoeg vir 4
• 3 rooibostee-sakkies, oopgeskeur
• 12 tamaties, gehalveer
• 100 ml hibiskus-balsemasyn
• 45 ml korrelmosterd
• 2 cm gemmer, fyngerasper
• 45 ml heuning
• 100 ml olyfolie
• 1 waatlemoen, in blokkies gesny
• 12 repies parmaham
• 12 klein mozzarella-balle
• 200 g pekanneute, grofgekap
• vars hibiskusblom vir garnering
• sout en varsgemaalde swartpeper
Voer groot pot uit met foelie en plaas op hoë hitte. Sprinkel rooibostee op foelie en plaas draadrakkie bo-op. Pak tamaties met gesnyde kante na onder op draadrakkie en maak pot toe. Wag tot daar rook uit pot kom en skakel hitte af.
Laat staan terwyl jy die slaaisous maak: Klits asyn, mosterd, gemmer, heuning en olyfolie met draadklitser. Pak waatlemoen, ham en kaas op opdienbord. Sprinkel neute oor en pak tamaties bo-op. Skep slaaisous oor en garneer met vars hibiskusblom. Geur goed met sout en peper. Sit voor.
Sampioen-en-spek-gnocchi
genoeg vir 4
• 45 ml olyfolie
• 1 ui, gekap
• 2 knoffelhuisies, gekap (opsioneel)
• 250 g spek, fyngekap
• 250 g sampioene, gehalveer
• 250 ml vars room
• 500 g gnocchi
• 80 ml fynbos-balsemasyn
• 100 g parmesaankaas, gerasper
• sout en varsgemaalde swartpeper
• salie, basiliekruid en roket vir voorsit
Verhit olyfolie tot warm in middelslagpan. Voeg ui en knoffel (indien gebruik) by. Braai vir 3 – 5 minute of tot begin verbruin. Voeg spek by en braai verder vir nog 5 minute of tot spek begin verbruin. Voeg sampioene by en roerbraai vir 5 – 8 minute. Voeg room by en verlaag hitte. Laat prut vir 10 minute. Terwyl sous prut, kook gnocchi volgens verpakkingsaanwysings en dreineer. Roer parmesaan en asyn by warm roomsous. Voeg gaar gnocchi by en meng goed. Geur met sout en peper. Sit warm voor.
Sjokolade-panna cotta met laventel-balsemasyn-bessies
genoeg vir 4
• 15 g gelatien
• 180 g (225 ml) suiker
• 5 ml vanielje
• 100 g donkersjokolade van goeie gehalte, in blokke gebreek
• 500 ml melk
• 500 g Griekse jogurt
• 100 ml balsemasyn gegeur met laventel
• 50 g suiker
• 400 g vars bessies van jou keuse
• 1 vanieljepeul se sade
• karamel-springmielies vir voorsit
Plaas gelatien in klein bakkie en gooi klein bietjie koue water oor. Laat stol. Gooi kookwater in nog ’n klein bakkie en plaas eerste bakkie op die bakkie met kookwater. Laat gelatien smelt. Sit suiker, vanielje, sjokolade en melk in ’n kastrol. Plaas op lae hitte en laat smelt. Haal van hitte af en voeg gesmelte gelatien by. Gooi jogurt by en meng goed.
Verdeel tussen glasies of bakkies en sit in yskas. (Om die diagonale patroon te kry soos ons op die foto het, kan jy die glase teen ’n hoek van 45 grade laat stol, maar dis jou keuse.) Laat stol. Bring suiker en balsemasyn tot kookpunt. Verwyder van hitte en gooi warm oor bessies. Roer vanielje by en laat afkoel. Skep by gestolde panna cotta en sit voor met karamel-springmielies.
Nóg Inspirasiekos met SARIE-resepte
Waterblommetjie | Sout | Mossels en Oesters | Meel | Sampioene | Mozzarella | Soutwaterforel | Whisky | Vanielje
Hierdie episode van Inspirasiekos met SARIE (VIA, DStv-kanaal 147) is geborg deur Spekko. Met Spekko-rys kry jy altyd meer – ook inspirasie vir heerlike nuwe geregte.
Besoek www.spekkorice.co.za vir meer resepte en volg Spekko op Facebook of@SpekkoRice op Twitter en @SpekkoSA op Instagram.
The post Inspirasiekos met SARIE: Kook met balsemasyn appeared first on SARIE.