Het jy al gehoor van die nuwe kosgier: freakshakes? Dis melkskommels op steroïede. Oorgroot, oordadig en luuks. En dan besef jy dít is jou wildste drome wat waar word.
Hier is 6 restaurante in SA wat jy móét besoek:
1. Pietermaritzburg se Flavour Cafe
Sit jy jou voete in Pietermaritzburg, kan jy gerus gaan inloer by Flavour Cafe. Hierdie bistro/kafee maak van die lekkerste hamburgers in die land. Maar dis hul keuse van oordadige melkskommels wat veral die aandag trek.
As jy die eienaar, Lee Hankey, ontmoet, vra haar om een van die volgende vir jou te maak:
Sjokolade-brownie-melkskommel met vanielje-en-sjokoladeroomys, of karamelmelkskommel met dougnuts, gespikkelde eiers, sjokolade-sigare, grondboontjiebotter en, wag daarvoor, kondensmelk-kaaskoek – alles in een glas!
Daar is ook die sout karamel-en-springmielieskommel en pretzel-en-karamelskommel.
Lees meer oor hulle by EatOut
2. Seepunt, Kaapstad se My Sugar

FOTO My Sugar
Wie kan nee se vir ’n melkskommel wat gevul is met koekiedeeg en karamelsous, of romerige koffie met gekaramelliseerde klapper en sjokolade? En as jy waaghalsig wil wees, probeer die melkskommel wat gegeur is met miso-karamel en dan met ’n hand vol karamelspringmielies en sjokolade besprinkel is. Al die melkskommels by My Sugar word afgerond met lepels vol vanieljeroom. Ryk en heerlik.
Lees meer or My Sugar by Eatout.
3. Sandton se Walnut Grove

FOTO Walnut Grove
By Walnut Grove in Johannesburg se Sandton gaan jy nooit dieselfde item twee keer kry nie. Alles word elke keer anders voorgesit.
Min mense kan nee se vir Nutella, en ek weet ek kan nie! As jy jou melkskommeldrome wil laat waar word, besoek hulle dadelik en bestel die Nutty Nutella, ’n melkskommel gemaak met Nutella-roomys en voorgesit saam met ’n vuurwarm doughnut wat óók met Nutella gevul is! Daar is elke week nuwe melkskommels op die spyskaart.
Lees meer oor Walnut Grove op EatOut.
4. Parkhurst se Craft

FOTO Craft
Die geurige kos by Craft is spesiaal met vars produkte van plaaslike boere gemaak. Hulle het pas ’n nuwe nagereglys op hul spyskaart bygevoeg, en natuurlik is daar melkskommels op die lys.
Vir die kinderhart in jou moet jy die The Candy Carnival probeer. Lae van aarbei, borrelgom, love heart-lekkers, spookasem, pienk karamel en daardie sjokoladelekkers wat so ontplof in jou mond.
Die minder waaghalsiges onder ons kan die Chocolate Overload probeer: Melk-en-witsjokolade-melkskommel tussen lae haselneutsjokoladesous, ganache, geklopte room, gebraaide malvalekkers, Belgiese sjokoladesous, en om alles mooi af te rond, hande vol sjokoladesplinters.
Lees meer oor Craft by EatOut.
5. Houtbaai se Riverway Cafe

FOTO The Riverway Cafe
Ek is mal oor enigiets vintage en as jy by Riverway Cafe in Houtbaai gaan kuier, is dit presies wat jy kry. Alles is mooi en vroulik.
Hul melkskommels is ewe lekker en as jy hou van pienk, moet jy hul Eton Mess-melkskommel probeer: dit bestaan uit vars aarbeie, room, tuisgemaakte meringue en natuurlik die heerlikste vanielje-melkskommel. Nog op die lys om te probeer is die lemmetjie-skommel: tuisgemaakte suurlemoensmeer (curd), klapperkoekies en vars geklopte room.
Lees meer oor River Café op EatOut.
6. Port Elizabeth se Grass Roof
Die Grass Roof bied ’n lekker uitstappie vir die hele gesin. Dit bestaan uit ’n bakkery, plaasstalletjie en restaurant. Maar dis hul freakshakes wat my aandag getrek het. Kyk net hoe lyk een van hul monsters:
*Maak seker jy besoek EatOut vir ’n hele lys van nog lekker melkskommels om te drink, want hulle weet presies waar jy moet gaan!
The post Freakshakes: ja, dis ’n regte woord! appeared first on SARIE.