Wat is Kersfees sonder ham? Tradisioneel word net lemoensap gebruik vir die glasuursel, maar probeer frambose.
genoeg vir 12 – 14
- 1 groot gerookte ham (gammon), been en vel aan (die een op die foto is 4 kg groot)
- 2 uie, gehalveer
- 4 lourierblare
- 10 swartpeperkorrels hand vol heel naeltjies
Glasuursel
- 1 x 500 g-bottel heuning
- 60 ml korrelmosterd
- 350 ml lemoensap
- 125 g frambose, plus ekstra vir voorsit
Plaas ham in groot kastrol. Voeg ui, lourierblare en peperkorrels by. Bedek met water en bring tot kookpunt. Kook 30 minute per 500 g, minus 30 minute vir die tyd wat die ham moet bak. (Die 4 kg-ham het 31⁄2 uur lank gekook.) Haal versigtig uit water en trek vel af terwyl nog warm sodat die vetlaag wys.
Sit in oondroosterpan. Gebruik ’n skerp mes en sny ’n diamantpatroon in die vetlaag. Druk ’n naeltjie in elke vetdiamant. ( Jy kan dit alles doen die dag voor jy die ham gaan voorsit.) Glasuursel Verhit oond tot 180 °C. Plaas al die bestanddele in ’n middel- slagpot en bring tot kookpunt.
Laat prut vir 3 minute en verwyder van hitte. Druk frambose fyn met ’n vurk. Gooi hele mengsel oor ham en plaas oop in oond en rooster vir 30 minute. Skep elke 10 minute van die glasuursel in die pan oor. Bak tot ham goudbruin is. Sit op mooi opdienbord en strooi ekstra frambose oor. Sit voor.
Kersfees 2015 – resepte en dekor-idees
The post Kersfees 2015: Gerookte ham met framboos-en-mosterd-glasuursel appeared first on SARIE.