As dit kom by lekker eet en skelm bederwe, is daar sekere kossoorte waarvoor jy net nie nee kan sê nie. Jy wéét die skaal se naald styg met elke happie, maar eet sal jy eet.
Vergeet eers van die dieet! Daar is min dinge wat meer kan troos, meer geluk kan gee of jou net eenvoudig so goed kan laat voel soos dié verbode vrugte.
1. Karamel-kondensmelk
As kind en nou as grootmens bederf ek myself gereeld met ’n blikkie karamel-kondensmelk. Ek gaan sit voor die TV met ’n teelepel en eet dit saam met skywe piesang. As ek weer kyk, is die blikkie leeg!
2. Kaneel-pannekoek
Of dit nou winter of somer is, ek ryg pannekoek in asof dit my laaste maaltyd op aarde is. En as dit voorgesit word met ’n skyfie suurlemoen, glo ek hy is onmiddellik gesonder en ek eet sommer twee of drie. Om die hoek van my huis af, by die plaaslike supermark se ingang, is daar ’n King Pancake-stalletjie wat warm pannekoek verkoop. Ek kan myself nie help om een te eet as ek instap én uitgaan nie. Hier is die kannie-flop-pannekoek resep!
3. Koeksisters
Is daar dan iets wat meer kan troos as koeksisters saam met ’n koppie tee? Vir my is daar niemand wat dit kon bak soos my ouma Bettie nie, haar vrieskas was altyd vol sakkies van dié goue juwele. In die warm Upington-somers het jy hulle só yskoud en gevries geëet asof dit roomys was. Hier is my moderne weergawe van koeksisters in roosstroop.
4. Warmsjokolade
Vir dié een kan ek nie maklik nee sê nie, winter of somer! As dit buite stortreën, sit ek my gunsteling-fliek aan en maak ’n romerige warmsjokolade van volroommelk. Ek eet dit graag met my ma se karringmelkbeskuit: ek kan sien hoe die vetrolle om my maag aanpak, maar ek bly eet. Hier’s my heel beste warmsjokolade-resep waarvan jy ook nie genoeg gaan kan kry nie!
5. Roomys met sjokoladesous
Die blote gedagte aan hierdie eeue oue kombinasie laat my mond water … Ek kan nie genoeg hiervan kry nie. Daar gaan byna nie ’n Sondag in my huis verby dat ek dit nié voorsit nie: vanieljeroomys, sjokoladeroomys of selfs aarbeiroomys, maak nie saak nie, hy kry altyd sy kombers van vuurwarm sjokoladesous. Hier is my heel beste resep vir dié kombinasie.
The post 5 kosse wat vet maak: Jy wéét, maar kan dit nie weerstaan nie … appeared first on SARIE.