Die Olimpiese Spele begin Donderdag en die opwinding loop hoog! Ek sien veral baie uit na die 200 m-vlinderslag tussen Chad le Clos en Michael Phelps. Selfs SARIE KOS ervaar die gees van Rio in die nuutste uitgawe.
In Brasilië is die mense mal oor sport, dans en musiek. Maar een ding is seker: hulle hou nie partytjie sonder soet brigadeiros nie.
’n Brigadeiro is ’n sagte sjokoladefudge-bal wat in kleurstrooisels gerol word om dit feestelik te laat lyk. Dit is baie gewild onder suikertande en kan veral geniet word met lekker sterk warm koffie as nagereg, of sommer net omdat lekker lekker is!
Brigadeiros (sjokoladefudge-balle)
Dié tradisionele lekkergoed uit Brasilië is kleurryke balletjies wat smaak soos ’n mengsel van sjokoladefudge en toffie. Njam!
sowat 40 balletjies
Plaas 2 x 380 g-blikke kondensmelk, 60 g (150 ml) kakao en 25 g (30 ml) gesmelte botter in ’n groot glasmengbak. Verpulp met staafmenger tot mengsel glad en al die klonte weg is. Plaas vir 2 minute by hoë hitte in mikrogolfoond en meng dan goed deur met draadklitser.
Herhaal die proses 4 keer. Laat afkoel. Vorm klein balletjies (bietjie groter as ’n R5-muntstuk) en rol in jou keuse van kleurstrooisels (hundreds and thousands) of sjokolade-vermicelli – die hele idee agter die lekkerny is die bont verskeidenheid kleure.
Koop vandag nóg jou nuwe SARIE Kos
The post Sjokolade vir die Spele uit Rio se koskas appeared first on SARIE.