In ’n wêreld wat soms te vinnig beweeg, kan ons Sondae tyd neem om saam met geliefdes te kook en te kuier. Voeg daarby ’n kaggelvuur as jy gelukkig genoeg is om een te hê en goeie rooiwyn … en jy het die perfekte pasmaats vir die lekker koue weer.
Herman Lensing, SARIE se kosredakteur, deel sy wenke vir ’n suksesvolle #SARIESondag!
Wat is die week op die spyskaart? Lees hier!

FOTO Donna Lewis
#1 Kook genoeg sop en vries vir die week … Kook lekker baie sop as voorgereg met groentes wat nou in seisoen is. Botterskorsie en pampoen is goedkoop en jy kan baie mense daarmee kos gee. Sit die helfte vir #SARIESondag voor en vries die oorblywende helfte vir ’n ete later in die week. So spaar jy tyd én geld!
#2 Kies goedkoper snitte vleis. Tradisionele Sondagtafels is bekend vir lamsboud en geroosterde hoender. Maar kortrib of beesskenkels is net so lekker en raak murgsag as jy dit stadig rooster in die oond.

FOTO Donna Lewis
#3 Spaar geld en kook saam! Ons kan maar eerlik wees met mekaar: Om vriende te nooi vir ete is heerlik, maar minder lekker vir jou beursie. Hier is ’n plan. Stel die spyskaart saam en druk resepte uit. Deel dit uit en laat elkeen iets saambring vir die #SARIESondag-kuier.
#4 Maak glühwein en spaar geld. Winter beteken dat die geur van speserye in die lug hang. Glühwein is ’n heerlike manier om goedkoop wyn op te tof en nuwe geure te gee. Koop bekostigbare rooiwyne en voeg geur by met lemoenskil en kruie. Hier is ’n lekker resep!
Glühwein
• 1 x 750 ml-bottel rooiwyn
• 1 lemoen, in ronde skywe gesny
• 250 ml heuning (of suiker)
• 250 ml brandewyn
• 8 heel naeltjies
• 3 stokke kaneel (1 vir garnering)
• 2 steranys-sade
Plaas al die bestanddele in ’n pot en verhit oor matige hitte tot dit begin prut (jy wil nie al die alkohol uitkook nie!). Laat prut minstens 15 minute. (Jy kan dit ure op die stoof laat oor lae hitte.) Gooi deur sif en garneer met lemoen en kaneel.
Kry die volledige spyskaart én wenke vir die tafel HIER.
The post Wenke vir #SARIESondag: Ons kuier in tradisionele SA styl appeared first on SARIE.