As jy ook van vis-en-tjips hou soos ons hier by SARIE, is vandag die dag waarop ons dié lekker bederf vier. Ja, jy het reg gelees, ’n hele dag waar ons hierdie trooskos kan geniet sonder skuldgevoel.
Omdat ons so baie van die Britse kombinasie hou, het Herman en Barbara mekaar uitgedaag om te sien wie maak die lekkerste vis-en-tjips! Ons het kosblogger Anel Potgieter van Life is a zoobiscuit gekry om te help kies!
Om twee formidabele kokke soos Barbara Joubert en Herman Lensing se vis en skyfies te proe en te beoordeel is nie net intimiderend nie, maar ook senutergend vir ’n gewone mens soos ek. Daarom het ek besluit om my 83-jarige ma, Babs, met haar handsak vol blou, geel en wit pilletjies saam te sleep na die Groot Kook in die Kaap – vir emosionele ondersteuning, ja, maar ook sodat sy vir my een van daardie blou pilletjies kan injaag as my senuwees knaag, sê Anel.
BARBARA
Sy hou by die tradisionele manier van vis en skyfies maak, het Barbara besluit. Sy het haar stokvis in eier gedoop en in meel gerol, en toe in kanola-olie gebak. Haar aartappel-skyfies het sy dik gesny, in die oond gebraai en met ’n bietjie Maldon-sout gegeur. Die vis en skyfies is voorgesit met die heerlikste dik tartaarsous*, wat ’n perfekte balans tussen sout en suur gehad het.
HERMAN
Natuurlik sal Herman niks op die konvensionele manier doen nie. Vir sy vis het hy ’n doopbeslag van meel, bruismeel, boetiekbier en vodka gemaak. Ja, vodka! Soos Herman verduidelik: “Die vodka geur nie net die viskors nie, maar verdamp ook dadelik en verseker dat die beslag heerlik bros braai.” Hy het sy skyfies ’n bietjie dunner as Barbara s’n gesny en dit in eendvet in die oond gebraai.
Barbara en Herman se weergawe van vis-en-tjips
FOTO Micky Hoyle
Herman se gebakte vis
genoeg vir 4
• sonneblomolie vir diepbraai
• 200 g (360 ml) koekmeel
• 200 g (295 ml) rysmeel
• 5 ml bakpoeier
• 30 ml heuning
• 300 ml vodka
• 300 ml bier
• sowat 1 kg vars stokvis
• sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit olie in groot pot tot warm. Terwyl olie warm word, maak bierbeslag só: Plaas meel, rysmeel, bakpoeier en heuning in groot mengbak. Voeg vodka en bier by. Meng vinnig met draadklitser tot glad. Geur vis weerskante baie goed met sout en peper. Doop stukke vis in beslag en diepbraai 10 – 12 minute in warm olie of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier en sit voor met warm tjips en sous.
Tjips
• 6 groot aartappels, geskil
• 500 ml eendvet
• sout en varsgemaalde swartpeper
Sny aartappels in skywe van 1 cm dik en sny dan elke skyf in tjips van so 1 cm breed. As jy vir Gordon Ramsay gelukkig wil hou, moet jy sorg dat elke tjip perfek gesny is, maar in Herman se kombuis gaan dit oor lekker eet en liefde, en daarom verskil sy tjips van mekaar! Bring pot met water tot kookpunt en gooi tjips in. Laat kook 2 minute. Dreineer dadelik en versprei eweredig op bakplaat sodat dit kan afkoel. Verhit eendvet tot baie warm in middelslag-pot. Voeg afgekoelde tjips by en braai 5 – 8 minute of tot goudbruin en bros. Dreineer op kombuispapier. Geur met sout en peper.
Hou warm in lou oond.
MEER AVONTUURLUSTIG…
Die viskors van Herman se moderne boetiekbier-en-vodka-vis was lieflik opgepof en bros en die vis was heerlik sappig. Mense wat van dunner skyfies hou, sal gaande wees oor Herman se ryk, eendvetgebraaide aartappelskyfies.
Barbara se gebakte stokvis
genoeg vir 4
• sowat 1 kg vars stokvis
• sout en varsgemaalde swartpeper
• kanola-olie om vis in te bak
• sowat 140 g (250 ml) koekmeel
• 6 eiers, geklits
Sny stokvis in 8 porsies. Geur elke porsie met sout en peper. Gooi kanola-olie sowat 2 cm diep in ’n pan en verhit tot matig warm. Gooi meel in ’n plat bakkie. Gooi eiers in ’n bakkie. Bedek vis goed met meel en skud oortollige meel af. Doop dan in geklitste eier en plaas versigtig in olie. Braai tot goudbruin aan een kant en draai versigtig om. Braai tot goudbruin aan ander kant. Dreineer op kombuispapier. Sit vis voor met eier, tjips en tartaarsous.
EN DIE WENNER IS…
Ná al die geproe (en ’n blou pilletjie), moet ek sê ek het Barbara se bord verkies. Die vis was perfek gegeur en gaargemaak, en ek het nou maar eenmaal ’n voorliefde vir dik, krakerige aartappelskyfies. Barbara se tartaarsous was uitsonderlik lekker en haar bygereg van oorskiet-eier saam met die vis het my ook beïndruk.
The post Vis-en-tjips-dag: Herman vs. Barbara se resep appeared first on SARIE.