Uitvoerende sjef Brett Ladds het heel onder begin voordat hy sy groot kans in Madiba se kombuis gekry het. Hy vertel wat hy alles vir die voormalige staatshoof voorgesit het.
In matriek het Brett as kelner begin werk. Ná sy eindeksamen het hy in die restaurant bly werk en toe die sjefs op ’n dag uitstap, het hy beheer van die kombuis oorgeneem. “Dit het my soos ’n handskoen gepas. Ek kon dit met gemak hanteer.”
Dis hier waar sy talent raakgesien is deur die sjef Christian Michelle, wat gereeld in die restaurant kom eet het. Christian het die diplomatieke gastehuis vir die destydse regering bestuur. Hy het Brett ’n internskap aangebied om as sjef opgelei te word.
Brett vertel: “In 1993 het ek saam met hom by die presidensiële gastehuis gaan werk vir die ANC. Omdat Christian Frans is, het die ANC geglo hy sou onpartydig wees en hulle het hom vertrou.
“Drie weke voordat mnr. Nelson Mandela in 1994 as president ingehuldig is, het hy ons gevra om aan te bly en steeds na hom om te sien, want die presidensiële gastehuis gaan nou sy woning word. Ek is gevra om in te woon omdat daar ná werktyd altyd iemand moes wees vir onvoorsiene versoeke. Dit was die begin van ’n baie spesiale tyd in my lewe.”
Hy vertel dat hy as wit, 21-jarige jongman aanvanklik maar benoud en onseker was om vir Madiba te werk. Een aand het hy by die sitkamer verbygestap en toe hoor hy iemand roep: “Wie loop daar?” Die stem was onmiskenbaar dié van Madiba en hy het nie ’n ander keuse gehad as om in te gaan en met die president te gesels nie. Maar in die kort gesprek is baie van sy vrese besweer en het hy ’n diep respek vir die wyse staatsman gekry.
Oor Madiba se gunsteling-eetgoed verduidelik hy: “Omdat hy nie so gesond was nie, moes ons sorg dat hy ’n goeie dieet volg. Ons het ’n lys van kossoorte van sy dokters gekry, wat hy mag en nie mag eet nie, en moes daarby hou: baie vrugte en gesondsheidstee. Dit was meer ’n geval van wat goed was vir hom. Madiba was so lief vir tamatiesop, maar dit was vir hom taboe weens die suur. Lamstjoppies was vir seker sy gunsteling. Hy het ook gehou van warm poedings. Moenie dink sy smaaksin was onderontwikkel omdat hy so lank in die tronk was nie. Hy kon die verskil proe tussen viskuit en kaviaar! Ons het saans altyd ’n skinkbord met Belgiese sjokolade en truffels in sy kamer gesit, maar dít het soggens onaangeraak teruggekom kombuis toe.”
Nou, na baie jare, word sy droom om sy eie restaurant oop te maak ’n werklikheid. In Junie sal jy kan gaan eet by Chefs @ 566 in Garsfontein, Pretoria. Die restaurant en bakkery sal reeds vyfuur in die oggend oop wees, waar Brett en sy span van vroeg af brood sal bak. “Die gaste wat die restaurant besoek, sal deel voel van die proses, bynna asof hulle in die kombuis self werk. Die kos gaan energiek wees en gemaak met liefde” vertel Brett.
Die vraag op my lippe en in my gedagtes is: Wat sou jy graag vandag vir oudpresident Nelson Mandela wou kook as jy nog een laaste keer vir hom kon kook?
“As ek vandag vir hom kon kook, sou ek vir hom kreef uit KwaZulu-Natal voorsit met blomkoolrys. Riboog-steak met groenbone en soetpatats, en vir nagereg vars Suid-Afrikaanse vrugte.”
Ek wonder wat sou ek graag vir ons ikoniese Madiba wou kook? Ek dink ek sou dit eenvoudig hou, maar baie kos maak sodat ons lank kan sit en ek baie vrae kan vra – jy weet ek is mos maar nuuskierig en het duisende dinge wat ek graag wil weet. Hier is die spyskaart wat ek graag sou wou kook.
Voorgereg
Snoek-samoesas Kry resep hier
Hoofgereg
Wildsvleis-tamatiebredie Kry resep hier
Nagereg
Rooswater-koeksusters Kry die resep hier
The post Van kelner tot Madiba se kok, nou sy eie restaurant! PLUS Herman se spyskaart vir die president appeared first on SARIE.