Die bekende sjef Jamie Oliver het die eerste keer sorbet op dié manier op ’n kookprogram gemaak. Dit is die maklikste manier van roomys maak wat ek nog gesien het. Ek gebruik room pleks van suikerwater vir ’n ryker weergawe – pure bederf!
genoeg vir 4
• 2 x 400 g-pakkies bevrore aarbeie
• 1 x 250 ml-houer dubbeldik room
• 1 hand vol kruisementblare
• 80 ml strooisuiker
• warm water
Plaas aarbeie, room, kruisement en suiker in voedselverwerker met metaallem
– dit moet ’n plat, ronde verwerker wees met ’n los deksel. Verwerk op hoë spoed tot mengsel soos dik, romerige roomys begin lyk. As dit lyk of die vrugte te hard gevries is, gooi ’n klein bietjie warm water by terwyl die menger loop sodat die aarbeie sagter word. Sit dadelik voor of skep in ’n roomysbak en hou in die vrieskas tot jy dit voorsit.
Wenk
Dit lyk dalk asof die mengsel sukkel om puree te word, maar ná ’n paar minute sal die mengsel skielik bymekaarkom. Jy kan enige ander bevrore vrugte gebruik, soos mango en frambose.
The post Aarbei-en-kruisementroomys binne 5 minute appeared first on SARIE.