Ek bak die hoender halfgaar in die oond en braai dit dan verder.
genoeg vir 4
• 500 ml laktosevrye jogurt
• 1 hand vol sagte kruie, fyngekap (tiemie, origanum, koljander)
• sap en skil van 2 suurlemoene
• 2 brandrissies, fyngekap
• 2 ingelegde suurlemoene
• 1 groot hoender
• sout en varsgemaalde swartpeper
• 25 g (45 ml) botter
• 1 x 340 g-pakkie aspersies, in kookwater gedompel
Maak ’n vuur vir braai en verhit die oond tot 180 °C. Plaas jogurt, kruie, sap en skil van suurlemoene, brandrissies en suurlemoene in voedselverwerker. Verpulp by hoë spoed tot glad. Gebruik kombuiskêr en sny die rugbeen van die hoender uit. Draai hoender om en druk dit plat met jou handpalm – in Engels noem jy dit spatchcock. Plaas hoender in oondbraaipan en geur goed met sout en peper. Gooi jogurtmengsel oor en maak pan toe met tinfoelie. Bak 30 minute en haal uit oond. Die vuur se kole moet nou medium-warm wees. Plaas hoender in toeklaprooster en braai 15 – 20 minute met borskant na bo. Draai om en braai verder tot goudbruin en gaar. Verhit botter tot warm in groot braaipan en roerbraai aspersies 5 minute. Geur goed. Sit voor met gaar hoender.
The post Kruiehoender oor die kole appeared first on SARIE.